‘Visvang was sy passie’

Wyle Pieter Appelgryn (eienaar van die Baberbek Viswinkel) se familie is vasbeslote om sy nalatenskap voort te sit.

Die vissersgemeenskap asook familie en vriende is in rou na die dood van geliefde eienaar van die Baberbek Viswinkel in Hectorton, Pieter Appelgryn.

Appels, soos hy bekend staan, is in die ouderdom van 55 oorlede.

Volgens sy vrou, Marinda, is Appelgryn gediagnoseer met ‘n groeisel in sy brein in 2023. Toe hy egter vir behandeling vir die groeisel gaan, het hulle uitgevind dat Applegryn ook ‘n vergrote hart het.

“Sy gesondheid het agteruitgegaan en ons het hom op 18 Mei gegroet,” het Marinda gesê. Sy gedenkdiens is op 24 Mei vanuit die NHK Midpark Gemeente gehou.

Marinda sê Appelgryn het in Randfontein grootgeword en die laaste 25 jaar in Randgate gewoon. In 2018 het hy die viswinkel gekoop wat reeds ‘n gevestigde besigheid in die dorp was.

“Ons het na die winkel gaan kyk en my man het dadelik ingestem om die winkel te koop. Ons groot opening was op 27 Oktober 2018 en dit was sy passie, so hy het die winkel herbou. Hy het altyd raad gegee oor visvang en die gemeenskap gehelp om leef hul passie vir visvang uit te leef. Hy was ‘n baie goedhartige persoon wat veral kinders gehelp het om te leer visvang en het hulle soms gratis visvanggoedjies gegee omdat hy so lief was daarvoor.”

Appelgryn word oorleef deur sy vrou en dogter asook sy broer, suster en skoonfamilie en natuurlik sy kliënte wat hy eerder as sy ‘vissersfamilie’ gesien het.

“Hy was ‘n sagte mens met ‘n groot hart. Hy het altyd tyd gemaak vir sy medemens en almal gehelp waar hy kon. Ons sal altyd sy vriendelike lag en al sy gesprekke oor die lewe, ervarings en visvang onthou. Hy het ‘n leemte gelaat in die visvangwêreld en ook in ons harte. Ons sal sy nalatenskap voortsit deur voort te gaan met die viswinkel.”

Exit mobile version