‘Hy het soveel harte aangeraak’

Ná slegs vier maande verlaat FC die wêreld. Sy ma sê hy het soveel harte aangeraak in die vier maande wat hy geleef het.

Ná byna vier maande se geveg om sy lewe, neem die Coetzee-gesin afskeid van baba FC.

Op 23 Julie het die Randfontein Herald berig oor FC wat op slegs drie maande oud reeds die toonbeeld van ‘n vegter was. Op 12 Augustus, ’n dag voordat hy vier maande oud sou word, het sy gesin egter die klein wonderwerk vaarwel geroep.

• Lees ook: Ouers bid vir donasies vir baba FC

“Ons sal elke oomblik onthou wat hy by die huis was, die geluid van die monitors en ventilator het vir ons normaal geword en ons huis is leeg sonder die geluide. Sy vriendelike gesig en natuurlik die manier waarop hy ons laat bid het. In sy kort lewe het hy ons na aan God gebring. Hy het ons gewys wat hoop is en wat wonderwerke kan wees,” sê Kathleen, FC se ma.

Ten spyte van dokters wat glo FC sou nie swangerskap oorleef nie, het hy alle verwagtinge oortref.

Hy moes wel verskeie operasies ondergaan, maar het aangehou baklei. Die familie het donasies gevra om FC se bloedmonster na Amerika of Duitsland te stuur om vas te stel watter sindroom hy het.

“Daar is geen woorde wat kan beskryf wat met ‘n ouer se hart gebeur as hulle ‘n kind verloor nie. ‘n Baba wat so sterk was, wat dokters verstom het, wat ‘n wonderbaba was. Ons weet in ons harte dat hy by Jesus se voete dans, sonder enige hartprobleme, orgaanprobleme, monitors en ventilators, geen operasies meer aan daardie lyfie nie.”

FC word oorleef deur sy ouers, suster en grootouers.

’n Gedenkdiens ter nagedagtenis aan FC is op 16 Augustus gehou.

“Ons sal FC vir altyd na aan ons harte hou, hy was ‘n klein vegter. Hy het soveel harte aangeraak in die vier maande wat hy geleef het. En hy het mense wat vergeet het hoe om te bid terug op hul knieë gebring. Hy het sy doel bereik in sy kort lewe.”

Exit mobile version