Vleisfees is om die draai!

Gaan haal die blits en steek die vure aan, dis amper Vleisfees tyd in Randfontein!

Opgewonde! Dis wat die organiseerders by Sionspoort is want dit is sowaar al weer tyd vir hul jaarlikse Vleisfees op 3 Augustus.

“Ons Vleisfees het uit sy babaskoene in 2019 gegroei na ’n allemintige kleuter wat hierdie jaar al sy vierde amptelike verjaardag vier. Die komitee wat hierdie bulletjie van ‘n fees bymekaar bring, werk ’n volle jaar daaraan om te sorg dat die gemeenskap van Randfontein en ons omliggende dorpe ’n dag van pret en plesier kan geniet,” het Sionspoort Vleisfees mediabestuurder Appel Ernst gesê.

Appel het bygevoeg vanjaar s’n gaan nog groter, beter en verseker baie lekkerder wees.

Oudergewoonte hou die organiseerders dit op die terrein van die Tuinhekkie in Elandshoewe.

Madeliefie se teetuin.

“Ons het hierdie jaar ’n rekordgetal van 250 stalletjies wat uitsoek produkte aan ons gemeenskap gaan bied. Ons is trots om te kan aankondig dat hierdie jaar word die D2 drummie-kampioenskappe se eindrondte by die Vleisfees aangebied en ons verwag oor die 250 leerders om hul dansvernuf te kom tentoonstel.

“Ou gunstelinge soos die ses groot motoruitstallers met van die nuutste handelsmerke sal hier te sien wees. Natuurlik is die veteraanmotors altyd ’n gunsteling vir die geslag wat nostalgies raak oor agtersitplek flieks en handrat langs die stuurwiel. Natuurlik, met groei is daar altyd ook nuwe planne, en daarom nooi ons veral ons ‘uitvinders, innoverende denkers en die planmakers’ uit om aan ons ‘boerepatente’ te kom deelneem. Bring jou patent en kom spog met jou goeie idee.”

Die Kitaarkêrels.

In die plaasafdeling sal daar spog vee op skou wees, onder andere Kalahari Reds en boerbokke, Meatmaster skape en Boran beeste.

“Dit is pragdiere wat mens nie aldag in die stadsomgewing sien nie. Ons sien daarna uit om die rofstoei aan te bied vir die wat hou van so ietsie anders.”

Appel het bygevoeg die grootste doel van hul Vleisfees is egter om instansies in en om die gemeenskap die geleentheid te bied om ’n ietsie ekstra te verdien.

Die vure sal beslis aangesteek word!

“Daarom sal jy vele kosstalletjies kry, van Thai tot Eisbein, krokodil en skaap op die spit, tuisgebak en ingelegde produkte om van te kies en keur. Kom laaf jou dors by twee waterkrippe en geniet die vermaak by ons twee arenas. Hierdie is verseker nie ‘n kuier wat jy moet mis nie. Bekyk Randfontein vanuit die lug in die RE/MAX lugbalon of ry op ’n kameel. Verskeie kindervriendelike areas is ook beskikbaar vir ure se vermaak. Vleisfees wors en hamburgerpatties sal deel uitmaak van die vars vleis aanbiedinge by die fees.”

Ricus Nel.

Hekke open om 08:00 en toegang is R50 per volwassene; R30 vir laerskoolkinders en voorskoolse kinders is gratis.

Wat vermaak aanbetref is die kunstenaars wat regdeur die dag gaan optree op die twee verhoë Monique, Zander, Taye, Landman, Tamlyn, Renaldo, Marko en Hennie du Bruyn en die Kitaarkêrels. Tanya V en Anton Fitchat tree op as seremoniemeesters in die twee arenas en sal deurgaans sorg vir goeie vermaak.

Juan Boucher.

Om 19:00 tree een van die land se gewildste Suid-Afrikaanse kunstenaars, Juan Boucher, op en dan sluit die immergewilde Rikus Nel om 20:00 by die fees aan vir sy eiesoortige musiek.

Monique West.

“Daar sal genoegsame parkering op die terrein wees en ons vriendelike versoek is dat geen koelsakke en kos van buite ingebring word nie. Ons moet voldoen aan verskeie wetlike aspekte hieromtrent. Ons perseel is troeteldiervriendelik met dien verstande dat die troeteldier behoorlik onder beheer van die eienaar is en dat die eienaar sal opruim indien die natuur roep.”

Kontak hulle gerus op die volgende platforms indien daar enige navrae is:

• Facebook: SIONSPOORTVLEIS
• Webwerf: www.sionspoortvleis.org
• Instagram: sionspoort_vleisfees
• Algemene navrae: 067 763 8842
• Stalletjie navrae (kosstalletjies is reeds vol) op 071 217 5188

Exit mobile version