Ouers bid vir donasies vir baba FC

Ten spyte van al die mediese kondisies wat die drie-maand-oue FC ervaar, veg hy steeds aan. Die doel is om geld in te samel om uit te vind watter sindroom hy presies het.

Op slegs drie maande oud is klein FC Coetzee die toonbeeld van ‘n vegter.

Terwyl Kathleen Coetzee nog swanger was met FC, was sy aangeraai om ‘n aborsie te oorweeg. Sy het wel geweier en op 13 April is FC gebore met talle mediese komplikasies, insluitend ‘n gesplete verhemelte en net een oor.

Kathleen is toe ingelig FC sal nie eers die nag oorleef nie, maar vandag bewys hy almal verkeerd.

In sy kort lewe moes hy reeds vier operasies ondergaan insluitend om sy stoma uit te haal en ‘n kolostomie is ingesit aangesien hy ‘n baie klein rektum het. Hy het ook ‘n trageostomie ondergaan om hom te help asem haal en daar is ‘n perkutane endoskopiese gastrostomiebuis ingesit waardeur sy melk en medisyne gevoer word. Hy het reeds ‘n hart operasie ook gehad en moet nog twee ondergaan.

Kathleen noem hierdie is egter alles net tydelike oplossings.

Sy het verder gesê dat die dokters glo FC kan CHARGE-sindroom hê, wat veroorsaak word deur ‘n genetiese afwyking wat ‘n kind se senuwees, oë, hart, geslagsdele en ore kan aantas.

“Maar dit moet eers bevestig word en ons weet ook nie of daar enige ander defekte is nie,” het sy gesê.

Die volgende stap nou is om FC se bloedmonster na Amerika of Duitsland te stuur om uit te vind watter sindroom hy presies het. Kathleen het verduidelik al 46 chromosome is reeds getoets, maar hulle kon nie vasstel watter sindroom hy het nie. Normaalweg het elke sel in die menslike liggaam 23 pare chromosome (46 totale chromosome).

“Hulle moet elke chromosoom bekyk wat 20 000 selle insluit. Die toets word egter net in Amerika en Duitsland gedoen.”

Hierdie toets soek na veranderinge, of abnormaliteite, in die chromosome waaruit jou liggaam se DNA, of genetiese padkaart, bestaan. Die bedrag vir die toetse beloop so $2 000 (sowat R37 000) en hulle mik om R40 000 in te samel.

“Elke sindroom het hul eie emosionele effek op ‘n persoon. Die bloedtoets is vir ons baie belangrik om ook te weet hoe hy emosioneel gaan wees,” het Kathleen verduidelik.

Hulle het intussen ‘n BackaBuddy-blad vir FC gestig om die fondse in te samel en gaan ook lootjies verkoop wat by Kathleen beskikbaar is.

Sy het genoem die geld word dadelik aan die maatskappy wat die toetse doen betaal en dit wat oorbly word dan gebruik om ‘n kragopwekker te koop.

“Hy is al deur baie, maar hierdie kind is baie sterk.”

Enige persoon wat ‘n bydra wil maak kan Kathleen op 072 369 9561 skakel of die BackaBuddy-blad besoek by https://www.backabuddy.co.za/campaign/special-bloodtets-for-baby-coetzee.

Exit mobile version