Local news

Randfontein neem afskeid van 78-jarige Lementia

Die Randfontein-gemeenskap neem afskeid van geliefde bejaarde Lementia Dippenaar in die ouderdom van 78 jaar.

Die gemeenskap is in rou gedompel na die afsterwe van geliefde inwoner Lementia Dippenaar.

Na ‘n lang stryd met nierversaking is Lementia op 27 Junie in die ouderdom van 78 oorlede.

Charmaine Bosch, haar dogter, vertel, “Sy sal veral onthou word vir haar liefdevolle en humoristiese persoonlikheid en vir al die mooi blommerangskikkings wat sy vir troues en spesiale geleenthede gedoen het.”

Sy het genoem Lementia het haar lewe lank in Randfontein gewoon. Sy was ‘n leerder van Laerskool Randfontein en Hoërskool Riebeeckrand.

In 1965 is sy en haar man Ben Dippenaar getroud. Hy is in 2019 oorlede.

Haar laaste twee jaar was sy ‘n inwoner van Wings of Inspiration Elderly Care Centre saam met haar suster, Ina Senekal.

“Daar is groot dankbaarheid teenoor Wings of Inspiration vir die liefde en toewyding waarmee hulle my ma versorg het, asook vir die personeel by Lenmed Hospitaal.”

In 2014 het sy ook ‘n stryd teen fase 4-kanker oorwin. “Sy was altyd moedig en ‘n baie sterk vrou,” het Charmaine gesê.

Haar begrafnisdiens was op 3 Julie vanuit die Betesda Bediening, wat ook die dag van haar en Ben se huweliksherdenking was.

Lementia word oorleef deur haar dogter Charmaine, haar twee seuns Heinrich en Jacques asook haar kleinkinders en agterkleinkinders.

“Ons wil graag almal bedank wat belangstelling getoon het en bydraes gelewer het tydens haar afsterwe.”

Related Articles

Back to top button