Beseerde pitbull se eienaar gesoek

Nadat 'n pitbull in Helikon Park gevind is het Animal Aid Warriors hom na die veearts geneem sodat sy wonde versorg kan word.

Animal Aid Warriors is opsoek na die eienaar van ‘n beseerde pitbull wat onlangs gevind is.

Stigter van die organisasie, Naomi de Beer het verduidelik hulle het op 2 Julie die oproep gekry dat die hond by ‘n plaaslike besigheid gevind is. Iemand het ook by hom gewag om seker te maak hy hardloop nie weg nie.

Sy het bygevoeg die pitbull het nie ‘n mikroskryfie nie, wel ‘n wond op sy gesig wat al deeltelik genees is en albei sy agter pote is geswel. Hy sit steeds gewig op sy agter pote, hoewel nie ten volle nie.

• Lees ook: Prokureursfirma bekommerd oor aantal rondloper diere 

By die veearts het hulle X-strale geneem en sy wond skoongemaak.

“Ons kan net bespiegel hoe hy in so ‘n toestand opgeëindig het. As ons moet raai sal dit wees dat hy raakgery was. Hy is baie vriendelik, al is hy in pyn en het glad nie gegrom of probeer byt toe ek hom gedra het nie,” het Naomi gesê.

Sy het bygevoeg die eienaars kan haar kontak by 079 834 3957. Hulle sal egter bewyse moet gee dat die hond wel aan hulle behoort. ‘n Huisinspeksie sal gedoen moet word om die hond se veiligheid te verseker en hy sal dan ook ‘n mikroskryfie kry.

Exit mobile version