Die RandWes DBV skud blik om fondse in te samel

Die DBV doen hul bes om die diere in die gemeenskap te help en versorg en benodig ook die gemeenskap se ondersteuning.

As deel van hul maandelikse fondsinsameling het die RandWes DBV onlangs blik geskud by Tambotie Mall.

Brenda Eloff, voorstitter van die DBV het verduidelik fondse is baie belangrik vir hulle. Hierdie afgelope maand was besonders moeilik finansieel en moes hulle twee werkers se salarisse na betaaldag uitsorteer aangesien daar nie genoeg fondse was nie.

Candice Cloete, Andre Eloff, Ansie Malan en Brenda Eloff.

“Elke bietjie wat inkom maak wel ‘n verskil,” het Brenda gesê.

Hulle benodig steeds skoonmaakmiddels, komberse, katsand en staal. Hulle het verduidelik daar is al verskeie kere by hul ingebreek en die hokke waar hulle diere ontvang, is uitgebreek. Hulle het die hokke weer veilig gemaak vir die diere, maar daar is egter steeds herstelwerk wat gedoen moet word, aangesien daar nou maklike toegang tot die perseel is vir diewe.

Candice Cloete.

Hulle benodig ook gereedskap sodat hulle self herstelwerk kan doen. Die alternatief is om die gereedskap te leen of te huur, wat ‘n ekstra uitgawe is.

Brenda het verder verduidelik hulle sorg vir die diere se daaglikse behoeftes, maar daar is nie ekstras wat hulle vir hulle kan gee nie. As mense dus lekkernye en speelgoed kan skenk sal dit baie waardeer word.

Enige persoon wat wil bydra kan die kantoor op 011 412 3114 skakel of ‘n epos stuur na chairman@spcarandwest.co.za.

Exit mobile version