Prokureursfirma bekommerd oor aantal rondloper diere

Prokureursfirma in Greenhills het onlangs twee verdwaalde diere ingeneem en versorg.

Burgerhuyser Attorneys is bekommerd oor die aantal verdwaalde of verlore diere in die omgewing. Dit nadat hulle weer ingespring het om die soveelste hond in nood, die keer ‘n Jack Russel, te help.

Een van die werknemers, Maryke du Toit, het die Randfontein Herald vertel dat die einste hond in ‘n tuin oorkant hul kantore geslaap het. Een van Maryke se kollegas het toe die hond by die kantoor ingebring. Hulle skat die hond is ongeveer 10 jaar oud.

“Ons dink hy is ‘n weggooihond want hy is vreeslik oud en verwaarloos,” het Maryke vertel.

Maryke het verduidelik dat die hond baie skrikkerig in die begin was, maar toe die kollegas ‘n kombers om hom gooi en kos gee het hy sy stert begin swaai. Volgens Maryke was die hond baie vriendelik en wou hy heeltyd aandag hê.

Die pitbull wat versorg is voordat die veearts hom opgeneem het.

Dit is wel nie die eerste keer wat die besigheid ‘n rondloperhond uithelp nie. Maryke het vertel dat die besigheid uit diereliefhebbers bestaan en daarom geniet hul dit om keer op keer diere in sulke situasies te versorg.

Maryke en haar kollegas, Madeleine Conway, Ansie Cilliers, Charmaine de Wet, Elsie Hatting, Rejoyce Size en Marilize Janse van Vuuren het almal ingespring om die hond aan te hou vir ‘n wyle. Ongelukkig het die hond nie te lank gebly nie.

Intussen het die prokureursfirma laat weet dat hul ook ‘n pitbull gehelp het voordat hy deur ‘n veearts opgeneem is. Volgens Maryke was die hond beseer.

Maryke doen nou ‘n beroep op hondeienaars om na hul diere om te sien.

“Mense moet na hulle diere kyk. Nes mens ‘n gemaklike plek soek om te rus voor jy sterf, wil ‘n hond dit ook hê. Honde verdien die gemaklikheid om ‘n veilige hawe te hê waar hulle kan dood gaan,” het sy vertel.

Exit mobile version