Local news

Help God’s Army om die haweloses te voed

God's Army Aanbidding Sentrum wil 'n verskil maak deur kospakkies aan die minderbevoorregtes te bied, maar hul kort skenkings.

God’s Army benodig skenkings om die minderbevoorregtes met kospakkies te seën.

Leier van die gemeente, Hennie Marais, het vertel dat daar onstellende getalle van mans en vrouens is wat swaar kry as gevolg van omstandighede. Hy het verder verduidelik dat die werkloosheidsyfer van die land veroorsaak dat gesinne op straat eindig.

“Baie mense neem aan dat die haweloses op dwelms is, maar dit is nie altyd die geval nie. Deur hierdie kospakkie inisiatief wil ons graag nuwe moed skep vir mense sodat hul besef dat daar ‘n uitweg is. Ons wil graag hê dat die mense moet besef hul het God nodig tydens hierdie moeilike omstandighede. Ons wil weer ‘n glimlag op iemand se gesig sien,” het Marais gesê.

Marais het vertel dat hul enige donasies sal verwelkom. Solank hul ‘n honger kind kan voed, maak dit ‘n verskil volgens die kerk. Die gemeente soek graag donasies in verband met kos, klere en komberse.

Die kospakkies bestaan hoofsaaklik uit:
• meel
• rys
• pasta
• margarien
• konfyt
• grondboontjiebotter
• koffie
• suiker
• melk
• blikkieskos
• brood
• groente
• wors en maalvleis

Marais het uitgedruk dat hul al agt jaar met haweloses werk, maar dat die skenkings nie genoeg is nie.

“As ons nie donasies kry nie koop ek alles uit my eie sak uit, maar dit is nie altyd moontlik nie. Partykeer moet ons vir die mense sê dat daar nie vandag kos is nie. Dit is ‘n baie moeilike ding om te doen, maar ons probeer ons bes. Ons sit dan met die gewete dat daar ‘n kind is wat vanaand honger gaan slaap,” het Marais vertel.

Hy noem dat hy graag wil sien dat ander kerke ook die gemeenskap begin help. Volgens hom is daar baie mense wat by hul aanklop vir kos.

“Hierdie mense vra vir kos en sê hul kerk help nie met kospakkies nie. Kom ons almal maak ‘n verskil. Die Here het vir ons almal gesterf. Die Here het ons ‘n opdrag gegee om mense te help,” het Marais afgesluit.

Indien enigiemand bereid is om skenkings te maak, kontak Marais op 079 050 5175 of lewer die donasies af by die God’s Army Aanbidding Sentrum in Kingfisherstraat 21, Helikonpark. Marais het bygevoeg dat hul wel die donasies kan optel indien die persoon geen vervoer het nie.

Related Articles

 
Back to top button