Bekende musikant besoek plaaslike tuiste vir bejaardes

Die ouer generasie wys hoe om die lewe te geniet met musiek en dans.

Bekende musikant David Fourie het onlangs Randfontein Vriendskap Tuiste besoek om die inwoners te vermaak met sy musiek.

Annemarie Kotzé van die Tuiste het verduidelik David het hulle vertel van sy nuwe musiek video en die boodskap wat hy wil oordra dat dit ‘nie saak maak in watter fase van jou lewe jy is nie, die vreugde van die lewe steeds gevier kan word’. Hy het toe gevra vir een van hulle inwoners wat hierdie leuse verpersoonlik om deel te wees van die musiek video vir sy liedjie Die Dans Ding.

Alta Duvenhage (78) het besluit ‘hoekom dan nou nie?’. Annemarie het vertel Alta het die pad gevat na waar die video geskiet is en sonder dat sy dit besef, die heeldag haar beste danspassies uitgehaal. Self die jonger mense moes uithaal en wys om by haar kers vas te hou.

David Fourie en Karen Esterhuizen. Foto ingestuur.

“Ons het toe ook uitgevind dat die talent hier by Vriendskap Tuiste nie net by ons inwoners lê nie in dat ons ondervoorsitter, Tommie Steenkamp se kleinseun, ook in die video dans. Hy is die een wat so galant vir Alta aan die einde van die video bystaan.”

David was so beïndruk, hy het besluit om op 24 Mei vir die res van die inwoners by die Tuiste te gaan kuier. Annemarie vertel hy het in die saal vir die inwoners gesing en met hulle gesels.

“Daar was ‘n jolige atmosfeer en almal het dit geniet. Party het saam gedans en gesing. Vir die wat nie meer kan dans nie het ‘n handdruk en serenade van David hul groot laat glimlag.”

Hy het selfs belowe om vir ‘n ‘regte konsert’ terug te kom.

“Hierdie is net ‘n bewys dat Vriendskap Tuiste se mense ‘lekker’ mense is.”

Exit mobile version