Local news

Uitstallers wys die boere in hulle

Die NWK Boeremark maak weereens groot aanslag met verskeie stalletjies.

Die Randfontein Herald het nog ‘n suksesvolle NWK Boeremark bygewoon waar talle uitstallers hul merk gelos het.

Op 25 Mei was die boeremark volstoom aan die gang met verskeie plaas- en tuisgemaakte produkte te koop. Van blomplante en vars groente tot driedimensionele drukwerk was dié dag teen toon gestel. Mede eienaar van Ditjies en Datjies 3D Printing, Anuschka Coetzee het vertel dat die besigheid deur haar skoonma begin is.

“Nadat sy ‘n 3D-drukker gewen het, toe sien ons die geleentheid om die besigheid tot stand te bring. Dit is ‘n groot eer om te kan sê dat ons dit as ‘n familie saam kan doen,” het Anuschka vertel.

Hul stalletjie was volgepak met speelgoed, potplante en standbeelde. As hul nie 3D-drukwerk doen nie, dan verkoop hul ook pannekoek deur die week.

Tinus van Deventer, Enrico Venter, Raymond Els en Tienette Putter van Safari Agri Boerdery.

Safari Agri Boerdery het die geleentheid aangepak om hul heuning, konfyt, eiers en pampoene te verkoop. Volgens Tinus van Deventer het al die produkte vars vanaf sy plaas gekom. Hy het bygevoeg dat hy ‘n veeboer, asook ‘n byeboer, is. Tinus het vertel dat sy passie vir boer begin het nadat hy met klein varke geboer het.

“Ons het gewoonlik pampoene verkoop voordat die NWK hier oopgemaak het. ‘n Week nadat die NWK oopgemaak het, toe vra hul of ons ‘n boeremark wil hou. Dit is hoe die boeremark ontstaan het,” het Tinus gesê.

Nadia en Mynhardt von Dresselt van The Pork Deli.

Nadia en Mynhardt von Dresselt het The Pork Deli ten toon gestel. Nadat hul met varke begin boer het, het hul besluit om hul produkte by markte te verkoop. Sewe jaar nadat hul begin boer het, kon hul uiteindelik ‘n winkel koop.

Anuska Wolmarans hou een van Cast Aways se hondjies vas.

Cast Aways Animal Sanctuary het hul fondsinsameling-stalletjie ten toon gestel vir die gemeenskap. Stigter en direkteur Louisa Rossouw het vertel dat hul dringend fondse benodig om hondekos te koop. Louisa en haar span het kolwyntjies verkoop en indien enigiemand bereid is om ‘n donasie te maak, kontak Louisa by 072 812 3333.

Petro de Lange met haar blatjang en konfyt lekkernye.

Petro de Lange het haar tuisgemaakte blatjang en konfyt uitgestal.

“Dit was nog altyd my passie om gepreserveerde produkte te maak. Ek het so groot geword met my ma wat blatjang en konfyt maak. Ek geniet dit vreeslik baie om met my produkte te eksperimenteer en nuwe smake te ontwikkel. Nadat ek afgetree het, moes ek iets kry om myself mee besig te hou,” het Petro gesê.

Christelle en Leonard Binneman van Obetruth.

Christelle Binneman van Obetruth het verskeie bottels met unieke ontwerpe verkoop.

“Die ontwerpe is geïnspireer deur God. Ek het voorheen ook drukwerk gedoen, maar God het my op ‘n geestelike reis gevat. Dit is toe ek begin het met Obetruth. Die besigheid bring vir my groot saligheid,” het Christelle vertel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button