Local news

Eers tronkvoël en nou predikant – Ivor Swartz inspireer só die jonges

Predikant, skrywer en spreker deel sy verhaal en hoe hy gekom het tot waar hy vandag is.

“In die lewe maak mens verskeie keuses, een daarvan is of jy ‘n held wil wees of ‘n skurk.”

So het Ivor Swartz, ‘n predikant, skrywer en spreker, tydens sy besoek aan Laerskool Randfontein (RAM) op 3 Mei gesels oor sy lewenspadjie.

Ivor vertel, uit eie ervaring, dat hy weet hoe verkeerde keuses en stemme ’n mens se lewe kan beïnvloed. Na jare wat hy, sy ma en jonger broer sy ouer broer se mishandeling moes verduur, was dit uiteindelik by die skool waar hy en sy jonger broer veilig gevoel het. Daar het hy ook voorgegee alles is reg, ten spyte van sy gevoelens van eensaamheid.

“Jy is nie alleen nie, jy voel dalk eensaam, bang en kwaad. Praat met iemand. Jou hart kan nie die gewig van daardie gevoelens dra nie,” het Ivor aan die kinders gesê.

Op 13-jarige ouderdom het hy die besluit geneem om sy ouer broer te skiet tydens ‘n onderonsie. Gevonnis tot ses jaar en ses maande tronkstraf het Ivor egter nog verdere verkeerde besluite geneem. Een daarvan was om by ‘n tronkbende aan te sluit.

“Die tronkbendes was die naaste plek aan die hel wat ek in my lewe teëgekom het.”

Sy jonger broer het ook uiteindelik in die tronk beland en hulle het egter albei aan ander bendes behoort en daarom nie ‘n woord met mekaar gepraat nie. Op 26 Julie 2005 is albei ingelig hulle ma is oorlede en hulle het nou net vir mekaar. Hy verduidelik dat hy daar ‘n besluit moes maak, wil hy die lewe van ‘n held leef, of die lewe van ‘n skurk.

“Moenie die waarskuwingstekens mis nie. Dit is nooit te vroeg of the laat om ‘n besluit te maak nie. Doen alles in jou vermoë om helde-besluite te maak.”

‘n Onderwyser by die tronk het sy lewe verander. Met haar hulp het hy matriek geslaag en op 7 Desember 2005 is hy vrygelaat. Na sy vrylating het hy by die Universiteit van Pretoria teologie gaan swot en is tans ‘n predikant by NG Pretoria-Oosterlig gemeente. Hy het reeds twee boeke gepubliseer en hou gereeld praatjies by sowat 80 skole jaarliks om hoop aan kinders oor te dra.

“Hoe jou lewe begin het is nie noodwendig hoe jou storie gaan eindig nie,” het Ivor gesê en noem hy voel dis sy roeping om sy storie te deel.

“Ek wil nie toelaat dat wat ek deurgemaak het verniet was nie. Ek is nou genees en dit kan iets vir iemand anders beteken.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button