Local news

Willie Wikkel Wurm kuier by RAM

Die Vrouelandbou-unie se Ridderspore-tak het koppe bymekaar gesit om wurms vir Laerskool Randfontein leerders te hekel.

Die Vrouelandbou-unie (VLU) se Ridderspore-tak het hul Hef ‘n Kind projek uitgevoer by Laerskool Randfontein.

Op 26 Februarie het die lede gehekelde wurms vir die leerders uitgedeel. Volgens VLU woordvoerder Leonie Calitz, is die wurm se naam Willie Wikkel Wurm. Sy het voortgegaan deur te verduidelik dat die wurm veronderstel is om kinders te help met hul gemoedstoestand wanneer hulle ‘n ongerieflike dag gehad het.

Leerders staan met bere wat die VLU gemaak het.
Kgothatso Modise, Hlompho Thase, Joy Hough, Amy Lee Wessels en Denicke Erasmus.

“Wanneer jy hierdie wurm op ‘n slegte dag vashou, weet jy dat die wurm net so sterk is soos jy. Jy kan die wurm trek en draai so baie soos wat jy wil en hy sal teruggaan na sy oorspronklike vorm. Hy is daar om vir jou versekering te gee wanneer jy alleen voel,” het Leonie vertel.

Leonie vertel dat die wurm vir enige persoon gegee kan word, alhoewel kinders die groot teikengroep van die projek is.

Gerda Benadie (voorsitter) lewer ‘n toespraak.

“Die wurm is nie ons enigste Hef ‘n Kind projek nie. Ons hekel ook die Amigumri diertjies en gebreide teddiebeertjies,” het sy verduidelik.

Leonie het uitgedruk dat die VLU ‘n organisasie is wat vroue se ontwikkeling en opheffing in verskillende velde bevorder. Volgens haar strewe hul daarna om vroue se potensiaal te ontsluit, hul regte te bevorder en hulle te bemagtig om aktiewe deelnemers in die samelewing te wees.

Voorsitter Gerda Benadie het bygevoeg dat die projek ook leerders handvaardighede leer. Sy het vertel dat die leerders by die VLU kan aansluit om te hekel, kuns te beoefen en T-hemde te kleur.

Related Articles

Back to top button