Local news

Bejaarde maak groot skenking aan DBV vir haar 80ste

Tannie Hannie inspireer almal met haar goedhartige bydrae tot die gemeenskap.

Gewoonlik aanvaar mens ‘n geskenk of twee op jou verjaarsdag, maar eerder as om te ontvang het Tannie Hannie Strauss besluit om terug te gee aan die gemeenskap.

Hannie het onlangs haar 80ste verjaarsdag gevier en in stede van geskenke te aanvaar het sy al haar geliefdes gevra om onder andere hondekos te bring wat sy intussen aan die RandWes DBV geskenk het.

“Ek het nog altyd ‘n groot passie vir diere en gee om vir hulle, asook mense wat swaarkry. As ek hoor iemand is in nood, hetsy dier of mens dan vra ek myself, ‘hoe kan ek help?” het Hannie dit gestel.

“Ek wil nie botteljies badskuim hê wat net hier rondstaan nie. Die geld kan eerder gaan om hondekos te koop,” het Hannie verduidelik.

Sy het gesê hulle was nie net daartoe in staat om sakke hondekos te skenk nie, maar ook katkos, komberse en kontant.

“Die DBV het dit meer nodig.”

Behalwe haar groot liefde vir diere en die medemens is Hannie ook lief daarvoor om te verf en het talle kunswerke in haar huis. Sy spandeer ook graag tyd saam met haar Kameelboom bonsai.

Sy wil ander ook aanmoedig om haar voorbeeld te volg en ‘n inspirasie te wees vir die res van die gemeenskap.

Rene van Straten, RandWes DBV se bestuurder, het bygevoeg, “Ons is verskriklik dankbaar vir die donasie. Dit maak ons harte baie bly dat Tannie Hannie nie aan haarself gedink het nie, maar ons dierekinders. Elke bietjie help en elke sak kos, elke kombersie, elke R10 maak ‘n verskil in ‘n dier se lewe.”

“In 10 jaar doen ons dit weer,” het Hannie geskerts.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button