Local news

Geliefde Jack Russel, Roxy, vermis

Inwoner vra die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir haar miniatuur Jack Russel wat meer as 'n week terug vermis geraak het.

Die gemeenskap se hulp word gevra om ‘n Culemborg Park-inwoner se geliefde hond, Roxy, op te spoor.

Eienaar Cecilia Meyer se hondekind is ‘n agtjarige miniatuur Jack Russel met een oortjie wat altyd regop staan. Sy weeg ongeveer 3.3kg.

“Almal het hondjies en almal is lief vir hulle. Dit is ons kinders. As ek net kan weet wat met haar gebeur het. Lewe sy? Het sy kos en water?” het Meyer gevra.

Sy het verduidelik Roxy het op 4 Februarie by die hek uitgekom. Sy het bygevoeg gewoonlik kom sy altyd terug as sy by die hek uitgaan en sy is onseker of Roxy moontlik daardie aand iets gejaag het wat sal verduidelik hoekom sy uitgegaan het en nie teruggekom het nie.

“Ek het die oggend van 5 Februarie, toe ek die honde oopmaak, besef Roxy is net weg, ek het al orals gery opsoek na haar.”

Sy het verduidelik iemand het haar daardie selfde dag in Helikonpark gewaar en sy en haar dogter het soontoe gery. Sy het na haar geroep, maar sonder sukses. Die middag van 7 Februarie het sy verduidelik iemand het haar naby Main Road gewaar, maar sy was te vinnig om gevang te word en sy is die veld in.

“Ek het soontoe gery, ek het haar geroep, maar ek dink sy is so verwilderd sy wil nie na enige iemand luister nie,” het sy gesê.

Sy het aangegaan om te sê Roxy is op 10 Februarie weer naby Randfontein se toetsstasie gewaar. Daar was weer ‘n soektog na haar op die been gebring, maar weer egter sonder sukses. Die laaste keer wat sy gewaar is was by die informele nedersetting naby Bundu Inn. Meyer verduidelik daar is vir haar water en hondepille neergesit asook haar kombersie.

“Ek weet nie of sy al geëet het en of sy daar is nie, maar almal in die omgewing is bewus van haar en almal is opsoek na haar. Sy is amper nege jaar oud, as iemand haar vang moet hulle haar asseblief net nie seermaak nie.”

Sy het genoem sy het ook gevra wanneer iemand Roxy gewaar dat hulle hul oë op haar moet hou en Meyer moet kontak sodat sy na haar kan gaan soek.

“Sy is nou baie wild, oor die algemeen is sy maar ‘n bang hondjie. As dit reën en die donderweer slaan kry sy die ritteltits.

“Ek hoop en bid iemand van die area kan my ou hondjie weer vir my opspoor, want sy is baie lief vir my. Sy sal byvoorbeeld wanneer ek klaar gebad het en ek in die kamer terugkom het onder die komberse ingekruip. Sy lê altyd op my skoot. As ek net gemoedsrus kan kry,” het Cecilia gesê.

Sy het afgesluit, “Ek wil net dankie sê aan almal wat my help soek aan my Roxy.”

• Navrae: Kontak vir Cecilia by 082 372 3305.

Related Articles

 
Back to top button