Randfonteiner ‘n lid van SA se Boere-boyband Jan Jan Jan

Dylan Emslie, 'n lid van die beroemde Jan Jan Jan-sanggroep stel homself aan die gemeenskap voor.

Daar is ‘n beroemde inwoner in die dorp en sy musiek weergalm in Afrikaanse-sirkels.

Die 26-jarige Dylan Emslie is deel van die sanggroep, oftewel SA se gewilde Boere-boyband, Jan Jan Jan wat aan die begin van 2019 roem verwerf het met hul enkelsnit Wys jou vleis. Dylan was toe die vryskutmusikant in die snit.

Kort daarna in 2020 was daar ‘n pos in die sanggroep beskikbaar en die twee lede het Dylan genader. Nadat Dylan ingestem het om deel van die groep te wees, het hulle hom Mooi Jan gedoop.

Dylan is trots dat hy sedertdien deel van die groep kan wees wat boonop by Krone 2023 opgetree het. Sy toekomstige doelwit vir die sanggroep is om nog vele meer nommer een treffers te bereik.

“Ek dink om nee te gesê het vir die geleentheid wat Jan Jan Jan my offer sou dom wees. Ek sou dit definitief weer oor doen as hulle my moes vra. Ek het gehou van hulle sound en die vibe. Dit het so gemaklik by my persoonlikheid ingeval,” het Dylan vertel.

Dylan het bygevoeg dat musiek sy grootste passie is en beskryf musiek as ‘n universele taal wat almal kan verstaan.

Maar wie is Mooi Jan eintlik? Dylan is in 1997 in Krugersdorp gebore en het by Laerskool Protearif skoolgegaan. Hy het sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Monument voltooi en dadelik ‘n werk naskool gekry. Hy het sy gas-lisensie ontvang vir huishoudelike en kommersiële installasies en werk huidiglik as ‘n konstruksie kontrakteur.

Gedurende Dylan se skoolloopbaan was hy ‘n vryskut musikant. Hy het die voorreg geniet om aan skouspele deel te neem en dus groot verhoë met beroemde kunstenaars te deel. Hy het saam met kunstenaars soos Ricus Nel, Jak de Priester en Rocco de Villiers om ‘n paar te noem, gewerk. In hierdie tydperk het Dylan verskeie toekennings gewen, onder andere ‘n Ghoema, Vonk en Tempo musiektoekennings.

Dylan is huidiglik die stigter van twee besighede. Sy persoonlike doelwit is om sy besigheid, Titanrise Creations & The Gas Company te ontwikkel om ‘n verskil in die dorp te sien. In Dylan se vrye tyd geniet hy dit om gholf te speel.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version