Local news

Sesjarige leef sy droom en draf uit saam die Haaie

Keagan Croukamp het die kollig gesteel toe hy saam met die Haaie uitdraf tydens hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Stormers op DHL Stadion in Kaapstad.

Sesjarige Keagan Croukamp laat hom nie onderkry deur sy ouderdom nie en spog met vele talente.

Keagan is ‘n werklike bok vir sport en sy rugbyloopbaan is geen uitsondering nie. Hy het verlede jaar ‘tag rugby’ begin speel en draf vanjaar vir die Little Lions uit. Wanneer hy graad een begin beplan hy om groot te gaan in Laerskool Rapportryer se o7-rugbyspan. Hy wil graag nommer 14 speel omdat Werner Kok daardie nommer speel.

Sy rolmodel op die rugbyveld is Eben Etzebeth. Keagan se mees opwindende oomblik met betrekking tot rugby was toe sy ma, Elaine, ‘n Vodacom-kompetisie gewen het wat Keagan die geleentheid gegee het om saam met die Haaie uit te draf tydens hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Stormers op DHL Stadion in Kaapstad.

Keagan het ook sy voete warm gemaak op die atletiekbaan. Hy het talle 60m wedlope voltooi met Johan Maritz as afrigter. Keagan se liefde vir rugby het oorgeneem en hy het die keuse gemaak om atletiek vir ‘n rukkie eenkant toe te skuif.

Keagan geniet dit ook om te kolf in mini krieket en hy beplan om hierdie jaar groot aanslag te maak by Laerskool Rapportryer se o7-krieketspan.

Hy is nie net aktief op die sportveld nie en kry ook al die aandag op die dansvloer. Keagan is ‘n besige lid van Rhythm In Us Dance Studio en neem deel aan Hip Hop, Spaans en vele meer. Hy het onlangs aan die South African Dance Styles Association Gauteng Championship 2023 deelgeneem en ‘n treffende eerste plek verwerf.

In sy vrye tyd geniet hy dit om met sy kitaar te speel, alhoewel Keagan vertel dat sy kitaar te klein raak omdat hy ouer word. Hy neem ook musiekklasse en beplan om eendag ‘n musikant te word.

“My musiek rolmodel is Elandré en my gunsteling liedjie van hom is Melodiemasjien,” het Keagen vertel.

Keagan hou baie van sing. Hy wil graag vir die Koorkuikens sing. Hy sal dit ook geniet om sy stembande te oefen by die ATKV se spreekkoor en redenaars kompetisies. Hy was ook die wenner van Mnr Rappies verlede jaar.

Mamma Elaine vertel dat sy trots op Keagan is omdat hy sy unieke self is.

“Hy is werklik ‘n ‘Jack-of-all-trades’,” het sy bygevoeg.

Pappa Ruan het vertel dat hy die ligstraal in die huishouding is.

“Hy is die jonste van vier kinders. As hy nie al vroeg die oggend begin sing nie, weet ons dat hy nie in die huis is nie. Hy het altyd ‘n grappie om te deel,” het Ruan gesê.

Related Articles

Back to top button