Local news

Liggierit maak Randfontein opgewonde vir Kersfees

Randfontein Ekumeniese Forum en RandMark se liggierit het nie net Randfontein se paaie helder gemaak nie, maar was ook vir 'n goeie doel.

Die Randfontein Ekumeniese Forum het ‘n plesierige liggierit vir die Randfontein-gemeenskap aangebied terwyl daar ook donasies vir die plaaslike DBV geskenk is.

Op 12 Desember het die forum te same met RandMark die onvergeetlike affêre vir die gemeenskap aangebied.

‘n Swaar vragmotor was van dak tot bande met glinsterende Kersliggies versier en kinders kon selfs op die vragmotor klim. Lede van die kerk het toe hul stemme dik gemaak vir die aand om lede van ‘n tehuis asook inwoners met Kersliedere te vermaak. Die vragmotor-liggierit is deur Dominee Edwin van Wyk georganiseer wie Hennie Austin, Com Printers en Delightful Edibles and Crafts vir hul borgskappe van die Carols on Wheels bedank het.

RandMark-lede oorhandig donasies aan die RandWes DBV. Voor is Paul Kotze (voorsitter van RandMark se fietsklub), René van Straten (bestuurder van die RandWes DBV) en Trudi Reid (‘n organiseerder van die liggierit). Agter is Dominee Carel Pienaar (voorsitter van die Ekumeniese Forum) en Mike Reid (‘n organiseerder van die liggierit).

Verder het Edwin, asook Dominee Carel Pienaar, ‘n spesiale bedanking aan die gemeenskap gemaak.

Lede van RandMark, en fietsryers, het ook gewys dat hulle fiks is en ‘n 8km roete om die dorp voltooi. Die fietse was ook helder versier met Kersfeesversierings. Boonop was daar ‘n motorfiets-begeleiding vir die uitgebreide konvooi. RandMark se liggierit was deur Trudie Reid georganiseer.

RandWes DBV bestuurder René van Straten lewer ‘n toespraak by die Randpoort Renaissance tehuis met Dominee Edwin van Wyk aan haar sy.

Mapogo A Mathamaga Sekuriteit en gemeenskaplede het dan agter die vragmotor gery en die paaie was volgemaak met musiek, liggies en die klank van motortoeters. Die geleentheid was ‘n ekstatiese ervaring van samekoms en lede van die gemeenskap het tou gestaan buite hul huise om die vertoning te beleef.

‘Kersvader’ en Dominee Edwin van Wyk.

Op die einde van die dag het die liggierit ook ‘n geleentheid geskep om donasies vir die DBV in te samel. Voormalige inspekteur en huidige bestuurder by die Randfontein DBV-tak, René van Straten, het ‘n toespraak gelewer oor die risiko wat die feestyd vir diere bring. Sy het ook vertel dat dit noodsaaklik is om diere hierdie tyd van die jaar in ag te neem.

Die RandWes DBV se veldbeampte Junior Cuna en bestuurder René van Straten was ook betrokke by die liggierit.

Volgens René word die donasies wat deur die gemeenskap geskenk is, gebruik om die diere hierdie Kerstyd te bederf. René het haar dankbaarheid vir die forum en die gemeenskap, gewys.

RandWes DBV bestuurder René van Straten en Dominee Nico van Rensburg.
Die Carols on Wheels-lede het ‘n paar liedere by die Tambotie inkopiesentrum gesing voordat hulle vertrek het.

Related Articles

Back to top button