‘n Suksesvolle vetveeveiling kort voor Kerstydperk

Alhoewel Lund Afslaers se vetveeveilings gereeld as 'n sukses beskou kan word, was die een vir die boeke!

Die onlangse vetveeveiling by Lund Afslaers in Randridge so kort voor die lang Kerstydperk was ‘n reuse sukses.

Die veiling, wat op die laaste Woensdag verlede maand aangebied is, het talle bieërs gelok asook hul verstommende vetvee.

Eienaar van Lund Afslaers, Rudie Lund, bedryf die veilings al vir 23 jaar en behou sy passie vir groot- en kleinvee. Volgens Rudie was hierdie veiling een van die grootste nog en daarom beskou hy die dag as een vir die boeke. Hy het bygevoeg dat die boere uitstekende pryse vir vee gekry het.

Daar was ‘n totaal van 164 verkopers en 132 kopers vir die dag.

“Daar is rekordpryse behaal en rekordmassas aangeteken. Die doel van die vetveeveiling is vir ons boere om met hul beste diere [wat gewoonlik maande aangevoer word, sommige die hele jaar lank] te kom spog en sodoende pryse daarvoor te wen. Ons hou drie van hulle in ‘n jaar. Die volgende een is eers op 27 Maart 2024. Die laaste vetveeveiling van die jaar is gewoonlik die grootste en dien ook as ‘n afsluiting vir ons kliënte,” het Rudie vertel.

‘n Totaal van 312 beeste was opgeveil.

Alhoewel die omset nie aan die Herald bekend is nie, was daar ‘n totaal van 164 verkopers en 132 kopers op die dag. Die swaarste bul het 1 225kg geweeg en teen R45 500 verkoop. Die swaartse vark was 327kg, skaap 157kg en bok 97kg. Die rekordprys was die speen kalwers wat teen R48 per kilogram verkoop het.

Die aantal vee op veiling is as volg:
• Beeste: 312
• Bokke: 167
• Skaap: 257
• Varke: 398

Exit mobile version