René as DBV se nuwe bestuurder aangestel

DBV-inspekteur van vyf jaar René van Straten is bevorder to bestuurder van die RandWes DBV.

Die 25-jarige René van Straten en gewilde inspekteur vir die RandWes DBV is onlangs tot bestuurder bevorder.

Dit kom nadat die DBV-komitee ‘n deurslaggewende besluit geneem het om haar die bevordering aan te bied.

René vertel dat sy op 15 November ingestaan het as bestuurder waarna die bevordering openbaar gemaak is op 27 November.

“Ek is opgewonde en saam met my wonderlike span weet ek ons gaan net groei en dinge verbeter,” het René vertel.

René se aanstelling vereis die daaglikse bestuur van albei die Randfontein en Westonaria DBV-takke. Sy moet verseker dat die diere in hul sorg eervolle behandeling ontvang asook om bystand te bied vir die diere buite wat hulp nodig het, sonder om te huiwer.

René is al vir 10 jaar deel van die DBV. Sy vertel dat sy op 14-jarige ouderdom as vrywilliger begin het en al vyf jaar as ‘n gekwalifiseerde inspekteur werk.

“Die belangrikste deel van hierdie werk is die geleentheid wat jy kry om ‘n verskil in diere se lewens te maak. Dit is belangrik om diere wat in nood is te help. My grootste motivering is my passie vir diere. Die implimentering van wetgewing asook die goeie span waarop ek kan staat maak is een van my grootste motverings,” het René beklemtoon.

Volgens René is die DBV se mandaat om mishandeling te bekamp en om te verseker dat die beste versorging vir alle diere toegepas word in die gemeenskap.

René het die Herald ingelig dat die DBV groot doelwitte vir 2024 het. Hulle beplan onder andere om meer diere in minderbevoorregte areas te bereik en geleenthede te skep vir sterilisasies.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version