Carols on Wheels en liggierit gaan Randfontein paaie blink maak

Die Randfontein Ekumeniese Forum tesame met RandMark Klub sal op 7 Desember twee Kersfees-projekte uitvoer om die feestyd te vier.

Randfontein se paaie sal gevul wees met sprankelende ligte en vreugdevolle melodieë wanneer die Randfontein Ekumeniese Forum hul Carols on Wheels voorlê.

Die forum word deur dominee Carel Pienaar beskryf as die plek waar al die verskeie kerke van Randfontein bymekaarkom. Carel vertel dat die forum se doel is om te streef na ‘n breë geloofsgemeenskap wat onderling hande met mekaar kan vat.

Een van die forum se feestyd projekte is die Carols on Wheels wat op 7 Desember sal plaasvind. Hy noem dat hulle met hierdie projek ‘n feesviering nostalgie wil herleef deur gebruik te maak van ‘n vragmotor om deur die gemeenskap te ry en vreugdevolle Kersliedere te sing. Carel en die forum nooi die gemeenskap, veral kinders, om hierdie fees geleentheid te kom geniet. Hy het bygevoeg dat die vragmotor slegs tot 30 individue kan vervoer as gevolg van veiligheids maatreëls.

Die vragmotor se eerste bestemming sal aftreeoorde wees. Dit sluit in Renaissance, Randpoort Tehuis en Vriendskaptuiste. Deelnemers sal dus Kersliedere vir aftreeoord inwoners sing voordat hul vertrek na PicknPay in Greenhillsweg.

Die konvooi kom op die parkeerterrein van Tambotie Mall bymekaar en sal om 17:30 vertrek.

Volgens Carel ondersteun die projek jaarliks ‘n liefdadigheidsorganisasie. Hierdie jaar sal die projek die plaaslike DBV ondersteun. Hy nooi enige persone om kos donasies vir honde en katte saam te bring. Hierdie donasies sal gebruik word as ‘n Kersfeesete om die diere te bederf. Indien enige donasies gemaak kan word, kontak die DBV kantoor op 011 412 3114 of Brenda Eloff op 084 505 0613.

RandMark-lede ry met hul liggies in die strate van Randfontein.

Nog ‘n projek wat sal plaasvind op dieselfde aand is die liggierit van RandMark Fietsklub.

“Die klub nooi al die fietsryers van die dorp om hul fietse met liggies te versier en deur die strate te ry en te kyk na van die huise wat met mooi liggies versier is. Die fietsryers spring om 18:15 by Randmark se klub weg. Hierdie is ‘n sosiale geleentheid en is heeltemal geskik vir kinders en beginners wat 8km kan fiets ry teen gemiddeld 10km per uur. Trek gerus lekker vrolike klere aan en bring ‘n waterbottel saam. Die dra van ‘n helm is belangrik,” het Carel vertel.

Nadat die fietsryers hul roete voltooi het, sal die fietsryers en die vragmotor bymekaarkom. Van hier is daar motorfiets begeleiding vir die uitgebreide konvooi wat saam in Greenhillsweg afry. Hiervandaan volg die konvooi ‘n aangewese roete op pad na Arendstraat om te kyk na die liggies in Helikonpark. Die fietse se roete eindig weer by die Randmark klub.

Exit mobile version