Graad 1-leerder as Rappies-hoof aangestel… vir ‘n dag

Leerders neem die leisels oor by Laerskool Rapportryer se bestuur.

Gewone bedrywighede by Laerskool Rapportryer het verlede week ‘n onverwagse draai geneem toe twee leerders, hoof Joshua Nicolson en adjunkhoof Hanno Human, die hoofposte vir ‘n dag beklee het.

Hoewel Joshua slegs in graad een is en Hanno in graad ses, het hulle ‘n indrukwekkende impak op die skoolgemeenskap gemaak. Uit 123 aansoeke waar hulle vrae moes beantwoord het, was hulle gekies.

Volgens skoolwoorvoerder Esmé Botha, was een van die eerste besluite wat die nuwe hoof geneem het om die skool se roetine te verander.

“Hy het besluit dat daar drie pouses vir die dag moes wees, wat elke leerder asook onderwysers geniet het. Dit het die dag se skoollewe ‘n bietjie meer ontspanne en aangenaam gemaak. ‘n Ander opmerklike verandering was die afskaffing van die skooluniform ten gunste van gewone klere. Hierdie besluit het die leerders die kans gegee om hul eie persoonlikheid en styl te laat skyn, wat ‘n groot sukses was.”

Rappies-skool bid saam. Foto ingestuur.

Sy sê die hoogtepunt van die dag was die openingseremonie wat in die skool se vierkant plaasgevind het, met die hele skool van graad 1–7. Hier het hoof Joshua en adjunkhoof Hanno hulle praatjies gelewer. Hulle het die belangrikheid van saamwerk en respek vir mekaar beklemtoon.

“Die twee leiers het nie net toesprake gelewer nie, maar hulle het ook ‘n verskeidenheid take voltooi wat die normale skoolbestuur elke dag doen. Hierdie take het ingesluit die nasien van leerders se werk om diegene te beloon wat hard gewerk het, die sorg/ diens van die skoolbussie, die maak van afkondigings oor die interkom, en die monitorering van die skoolkameras.”

Esme het bygevoeg dat die organiseerder van die dag, Celeste Wentzel, ‘n inspirerende boodskap gedeel het toe sy ‘n foto neem waar almal vir die Here bid.

“Sy het beklemtoon dat die Here nooit ‘n skool sal verlaat wat saam bid nie, en dat die dag ‘n geleentheid was vir die leerders om saam te kom en ‘n eenheid te vorm.

“Alhoewel dit net vir een dag was, sal die herinnering aan hoof Joshua en adjunkhoof Hanno se leierskap vir ‘n leeftyd by die skool bly. Hulle het bewys dat leierskap nie aan ouderdom gekoppel is nie en dat selfs die jongste leerders ‘n groot verskil in hulle skool kan maak. Hierdie dag was ‘n ware viering van saamwerk, respek en inspirerende leierskap.”

Exit mobile version