Besigheidsmanne en -vroue by RAM gekweek

Ram gaan met trots ‘n hele paar besigheidsmanne en vroue in die toekoms oplewer as jy net kyk na hul graad sewe Markdag wat as 'n reuse sukses beskryf is.

As deel van die vak Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW), vereis die Departement van Onderwys dat al die graad sewe-leerders ‘n entrepreneursmark hou aan die einde van die derde kwartaal.

Op 8 September het Rammies hul staal gewys as dit by besigheid kom waar leerders ‘n produk en speletjie moes kies, beplan, bemark en uitvoer.

Hierdie projek word bestuur deur EBW-vakonderwyser, Tarquin Mulder en het die dag as ‘n reuse sukses beskryf.

Elismarie O’Reilly, Marissa van Deventer en Megan Erasmus.

“Die stalletjies het gesorg vir vermaak en genot vir oud en jonk en het die smullige kos, lekkers en woelige speletjies ingesluit. Daar was unieke stalletjies soos ‘n Lekkergoed Apteek, ‘All sorts’ graspoppe, ‘n spookhuis, Harry Potter skryfbehoeftes en vele tuisgemaakte eetgoed. Hierdie projek was nie net vir die broodnodige punte gedoen nie, maar natuurlik vir al die wins wat ingesamel is. Rammies het baasgeraak in vaardighede van kommunikasie, bemarking, beplanning, begroting en bestuur. Na die afloop van die entrepreneursdag is al die nodige berekeninge gedoen en die winste het gestrek van R500 tot ‘n stewige R6 000,” het Mulder gesê.

AJ van Zyl van die Harry Potter-stalletjie.

Volgens skoolwoordvoerder Annie Nolan, is spanwerk ook aangemoedig aangesien Rammies die geleentheid gehad het om in groepe saam te werk.

Chanika Oelsen, Kaylin Rassouw en Kiana Potgieter van All Sorts.

“Die gees het hoog geloop en ouers, oumas, oupas, onderwysers en leerders het in die jolyt gedeel. Dit was duidelik vir almal dat die graad sewes van Rammies besonderse entrepreneurs is. Rammies gaan met trots ‘n hele paar besigheidsmanne en dames in die toekoms oplewer.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version