BRIEF: Parkering in Duncanweg ‘een groot kopseer’

Inwoner skryf 'n brief en sê dit is regtig 'n groot kopseer en frustrasie wat parkering in Duncanweg aanbetref.

• Anoniem skryf:

Die pad voor ‘n gewilde inkopiesentrum in Duncanweg is al so twee tot drie jaar gelede opgeknap met ‘n dun lagie teer. Die wit- en geelstrepe aan beide kante is nog nie weer geverf nie. Daar is net verkeersbordjies op die sypaadjies ingeplant wat aandui dat stilhou aan beide kante verbode is.

Die motoriste steur hulle nie daaraan nie. Hulle parkeer aan beide kante van die pad. Nie eers twee klein voertuie kan langs mekaar verby kom nie. Om van groter voertuie en afleweringsvoertuie nie eers te praat nie. Selfs die polisievoertuie stop daar om vinnig iets by die sentrumy te koop. Dit is ‘n groot gesukkel om tussen die karre wat dubbel geparkeer staan, te ry.

Waar is ons dorp se verkeersdepartement om boetekaartjies uit te skryf? Dit is regtig ‘n groot kopseer en so sukkel ons wat gereeld die pad ry al vir ‘n paar jaar. Dit is ‘n groot frustrasie.

(NS. Dit is die gedeelte tussen Maugham- en Duncanweg, tot by die verkeerslig by ‘n meubelhandelaar).

Exit mobile version