Local news

Uitgeteerde vark uitgesit in Simunye

'n Man van Simunye in Westonaria staar 'n saak van diermishandeling in die gesig nadat die plaaslike DBV 'n uitgeteerde vark op sy perseel gevind het.

Die RandWes Dierebeskermingsvereniging (DBV) is daar vir diere in nood en om ‘n oog te hou oor die wat nalatig is teenoor diere en hulle dan te laat boet. Hierdie was die geval toe hulle onlangs ‘n honger en verwaarloosde vark moes laat uitsit as gevolg van nalatigheid.

Inspekteur Rene van Straten het bevestig dat ingevolge die Wysigingswet op Dierebeskerming, wet no 71 van 1962 onder artikel 2.1C vir hongersnood, is ‘n saak by die polisie aangemeld en word verder ondersoek voordat die vark se eienaar aangekla word.

Sy het verduidelik dat hulle oorspronklik ‘n klagte van die gemeenskap ontvang het omdat daar met varke in ‘n residentiële gebied in Simunye, Westonaria geboer word. Omdat die boer van diere in residentiële gebiede nie onder die DBV se mandaat val nie, kon hulle niks aan die situasie doen nie maar hulle kon tenminste toesien dat die varke goed versorg is.

Die ander varke is in ‘n goeie toestand en word gemonitor. Foto: Randfontein DBV Facebook blad.

Hulle het toe ‘n staatveearts genader wat die boere in die area gehelp het en saam het die boere, die DBV en die staatveearts verseker dat die varke in ‘n goeie kondisie en omgewing is.
Kort daarna het hulle besluit om weer inspeksie by die varkboere te gaan aflê waar hulle op ‘n uitgeteerde vark afgekom het.

Die trop varke was in so erge toestand dat een van hulle dadelik uitgesit moes word om hom van sy lyding te verlos. Die vark se oorskot is toe verwyder sodat ‘n nadoodse ondersoek gedoen kan word. Daar is toe bevestig dat dit wel hongersnood was.

Van Straten sê dat die ander varke deur ‘n staatveearts behandel is en nou baie beter doen.

Sy het vertel dat die DBV gereeld inspeksies by plase, varkboerderye, slagpale, troeteldierwinkels, telers, perderesies ensovoorts doen soos wat hul mandaat vereis.

“Om ‘n dier te besit is ‘n voorreg, nie ‘n reg nie. As jy nie weet hoe om na diere te kyk, en nie die nodige voorsorg, nasorg en navorsing doen nie, moet hulle dan nie aanhou nie. As jy vermoed daar is diere wat mishandel word rapporteer dit aan jou naaste DBV,” het Van Straten gesê.

Die uitgeteerde vark wat uitgesit moes word. Foto: Randfontein DBV Facebook blad.

Die RandWes-bestuur wil graag vir Dr Wessel van Parys bedank vir haar bystand en Van Straten wat die saak teen die vark se eienaar aanhangig gemaak het. Die oorblywende varke se kondisie word nou konstant gemonitor deur die DBV, die staatsveearts asook die munisipaliteit se gesondheidsdepartement.

Jy kan die Randfontein DBV ondersteun deur ‘n donasie te maak. E-pos hulle by manager@spcarandwest.co.za of skakel hulle by 011 412 3114.

Related Articles

Back to top button