Local news

Jonker-gesin rou ná geliefde pa se dood

Die dorp is in rou gedompel met die afsterwe van die 68-jarige Theo Jonker, 'n man wat sy hele lewe lank in Randfontein gewoon het en bekend was vir sy armlengte wortel.

Familie en vriende het op Maandag, 28 Augustus afskeid geneem van die 68-jarige Theo Jonker, ‘n man wat sy hele lewe lank in Randfontein gewoon het. Jonker se herdenkingsdiens het 11:00 vanuit die AGS Kerk in Baileystraat, Randgate plaasgevind.

Jonker het in 2017 in die Randfontein Herald verskyn toe hy ‘n wortel van 37 sentimeter lank en 12 sentimeter in omtrek geoes het.

• Lees meer hier: Oom Theo se 37 sentimeter lange wortel!

Jonker as kind in standerd 3. Hy was deel van die half-eeufees van Rapportryer. Foto ingestuur.

Sy oudste dogter Amanda van Wyk het aan die Herald bevestig dat haar pa op 18 Augustus oorlede is. Sy het bygevoeg die familie weet nog nie presies wat die oorsaak is nie en wag vir die nadoodse ondersoek se uitslae.

“Ons het op 3 Augustus ons pa na ‘n staatshospitaal gejaag in Krugersdorp nadat hy aanhou opgebring het. Hy wou ook nie eet nie. Hy word toe behandel vir voedselvergiftiging en is die volgende oggend ontslaan. Teen Saterdag was hy steeds nie gesond nie en ons dring toe daarop aan dat hy na ‘n ander staatshospitaal [ook in die Krugersdorp-area] moet gaan. Hy wou nie op daardie oomblik gaan nie en het gesê hy sal kyk hoe voel hy teen daardie Sondag [6 Augustus].

Jonker se vier dogters en kleinkinders by sy begrafnis. Foto ingestuur.

“Daardie einste Sondagoggend laat weet hy dat ons hom maar hospitaal toe moet neem. Op 11 Augustus is daar deur middel van ‘n CT-skandering bepaal dat hy ‘n obstruksie in sy dunderm het as gevolg van ‘n naeltjie breek. Op 12 Augustus stuur ons pa vir ons ‘n laaste stemboodskap dat hy teater toe gaan. Ons het toe daarna nie weer sy stem gehoor nie.”

Van Wyk sê Jonker is toe vanaf teater na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas waar hulle hom onder sedasie gehou het. Hy is toe weer op 18 Augustus teater toe maar kort daarna het die familie die nuus ontvang dat hy intussen gesterf het.

Jonker los vier dogters, vier kleindogters en vier kleinseuns agter. Jonker se vrou, Annalie, is in 1997 in die ouderdom van 38 weens kanker oorlede terwyl sy enigste seun, Tom, in 2006 op 18-jarige ouderdom in ‘n motorfiets ongeluk gesterf het.

Van Wyk het afgesluit deur te sê, “Dankie dat pa so goed was vir ons. Ons sal sorg dat pa se herinnering voortleef in geslagte wat kom. Rus sag pappie, ons is lief vir pa.”

‘n Meer volledige berig sal in die Herald se 8 September uitgawe verskyn.

Related Articles

Back to top button