Local newsSport

Elke tree is vir bewusmaking – orgaanskenkers

Twee vroue is op 'n missie om bewusmaking te skep van orgaanskenking, nie net hier op die Wes-Rand nie maar regoor die land.

Lizl Pistorius en Monica le Roux neem dit letterlik stap vir stap wanneer dit by bewusmaking van orgaanskenking kom.

Hulle het juis onlangs honderde kilometers gestap vir dié einste doel en beplan om nie baie vinnig op te hou nie.

Monice le Roux en Lizl Pistorius stap gereeld vir bewusmaking van orgaanskenking.

Die 48-jarige Pistorius van Greenhills, self ‘n orgaanskenker, het in 2018 haar nier aan Monica se swaer Cassie le Roux (63) geskenk. Vir Pistorius gaan dit oor lewens red en mense ‘n tweede kans te gee.

• Lees ook: Vroue gaan byna 90km stap vir bewusmaking

“Sekere kulture glo dat jy met al jou organe begrawe moet word. Vir my is dit belangrik om mense te laat besef dat daar honderde mense is, asook kinders, wat dringend ‘n orgaan benodig. Dit kan selfs ‘n saak van lewe of dood vir party mense wees.”

Pistorius se pleit aan die gemeenskap is om die opsies te oorweeg wanneer dit by orgaanskenking kom.

“Praat met jou famile oor wat jou wense is. As jy nie ‘n lewendige orgaanskenker wil wees nie kan jy jou organe skenk wanneer jy sterf. Ek is ‘n voorbeeld dat jy steeds ‘n goeie lewe kan lei al het jy ‘n orgaan aan iemand anders geskenk. Ek was 43 toe ek my nier skenk en om eerlik te wees het my lewe nie veel verander nie.”

Lizl Pistorius en Monica le Roux.

Een van haar grootste ondersteuners is die 66-jarige Le Roux van Randgate. Sy is tans ‘n afgetrede pensioenaris en was 42 jaar in die onderwys betrokke waarvan sy 21 jaar ‘n kleuterskool-onnie by Laerskool Randfontein was.

• Lees ook: Gemeenskap stap 5km ter herinnering aan wyle Leon Hefer

“Nadat my man in Augustus 2021 aan nierversaking oorlede is, is dit belangrik vir my om mense bewus te maak van orgaanskenking. Ek wil graag die belangrikheid daarvan aan mense oordra. Ongelukkig tel my ouderdom teen my vir lewendige orgaanskenking maar my familie dra kennis dat ek ‘n geregistreerde orgaanskenker is wanneer ek sterf. Maak net seker dat jou naasbestaandes weet wat jy wil doen.”

• Lees ook: Sakeman kry nuwe nier

Die twee beplan om weer op 27 Augustus van 08:00 tot 16:00 saam met ander skenkers te stap vir bewusmaking terwyl Pistorius in 2024 groot wil gaan en al die pad Durban toe wil stap.

Volgens Monica is daar ‘n spesifieke tekenmerk vir orgaanskenkers.

• Lees ook: My second chance in life – organ recipient

“Teken op as jy ernstig is oor orgaanskenking en onthou ook om bloed te skenk as jy kan,” het Pistorius afgesluit.

Besoek Organ Donation South Africa se webwerf vir meer inligting.

Related Articles

 
Back to top button