Local newsSchoolsSport

Ram-krieketspelers tydens trotse ‘capping’-seremonie vereer

'n Hele handvol Laerskool Randfontein krieketseuns- en 'n dogter was vanjaar deel van die trotse ‘capping’-seremonie.

Laerskool Randfontein het hul jaarlikse ‘capping’-seremonie tradisie vroeg in Augustus voortgesit.

Tydens die seremonie word elke lid van die eerste krieketspan en die afrigters vereer met ‘n unieke kriekethoed met ‘n spesiale nommer. Hierdie nommer sal altyd die persoon s’n bly en nooit aan iemand anders gegee word nie.

Volgens Annie Nolan, skoolwoordvoerder, was hulle hierdie jaar geseënd met ‘n uitstekende gasspreker, Marinus Lazenby.

Kaptein van die eerste krieketspan, Magdaleen Ernst, ontvang haar kriekethoed by Marinus Lazenby. Foto ingestuur.

“Hy is ‘n voormalige Noord-Wes Drake speler. Marinus het saam en teen huidige supersterre soos Dwayne Pretorius, Marchant de Lange en Devon Conway gespeel. Sy boodskap was eenvoudig … ‘Hou jou voete op die grond en jou oë na bo gerig’. Hy het afgesluit met die woorde: ‘Bou voort op 86 jaar se ryk geskiedenis en laat jou krieket drome vlerke kry’.”

Marinus Lazenby oorhandig ‘n kriekethoed aan onderkaptein Tyron Parrott. Foto ingestuur.

Vanjaar se eerste krieketspan kaptein is Magdaleen Ernst. Sy is die eerste dogter krieketkaptein by Laerskool Randfontein en in Gauteng-Wes.

“Sy is absoluut op meriete gekies en haar krieketprestasies lees soos ‘n Protea-speler s’n,” het Nolan gesê.

Nolan het afgesluit dat die eerste krieketspan hul seisoen afgeskop het met ‘n toer na Jubaweni tydens die Julie-skoolvakansie. Hul het ook aan die Potch Volkies-toernooi deelgeneem waar hul al hul wedstryde gewen het.

“Die afrigters, Steve Greyvenstein en Francois Keyter, is baie opgewonde oor die liga en glo die span gaan uitstekend vaar.”

Related Articles

 
Back to top button