Local news

KYK: Sionspoort slaggereed vir 2023 Vleisfees

Organiseers het bevestig dat die derde Vleisfees in Randfontein op 5 Augustus by Tuinhekkie sal plaasvind.

Die Sionspoort Hervormde Gemeente is slaggereed om hul gewilde Vleisfees op 5 Augustus vir die gemeenskap van Randfontein aan te bied.

Appel Ernst, die fees se mediabestuurder sê, “Sionspoort Hervormde Kerk nooi almal, oud en jonk uit om by ons aan te sluit. Ons kan nie wag om julle by die Vleisfees te sien nie. Ons fees by die Tuinhekkie is nog groter, beter en gaan verseker lekkerder wees as die voriges.”

Besoekers kan reeds vanaf 08:00 kom kuier en die fees sal tot laat aangaan. Daar sal ook ‘n groot verskeidenheid produkte by 200 uitgesoekte uitstallers van regoor Suid-Afrika beskikbaar wees, of kom drink tee en geniet tuisgebak by die Teetuin en bewonder die kunsuitstalling. Kom skaf ook sommer jou eie Vleisfees-hemp en hoed by hulle aan.

Natuurlik is daar ook iets vir die manne soos die immer gewilde veteraan motors, die Bekker Skole se Veeskou, baie gewilde fabrikaat nuwe motors en natuurlik trekkers. Ontmoet ook sommer ‘n Gladiator of vyf by hul motoruitstallingsarea. Aktiwiteite vir die jongklomp sluit in springkastele, kameelritte en ‘n verskeidenheid ander prettige dinge. Daar is selfs ‘n geleentheid om met ‘n warmlugballon die fees van bo te besigtig.

Sommige laerskole se pom-pom-spanne hou kompetisie by die Vleisfeesplaas en hoërskole gaan mekaar die stryd aansê by die toutrek.

Organiseerders vra dat mense ook honger moet kom want daar gaan baie kos wees.

“Vleiseters gaan sukkel om te kies tussen ons spitbraai, wat bestaan uit vark, bees, hoender, boerbok, skaap en eksotiese krokodil. Kom bederf ook jou palet met Yankees, pannekoek, vetkoek, sosaties, skilpadjies, pap en kaiings, skaapkop, samoosas, afval, pizza, Chipstix en nog vele meer. Vars vleis, biltong, droëwors en salami sal ook te koop aangebied word.”

Geen fees is dan volledig sonder topgehalte kunstenaars nie. Daar is twee arenas waar kunstenaars soos Bernice West, Van West, AJ de Vos, Stompdraai, Juan Pierre Murphy, Anton Botha, Gerhard Supra en nog meer gaan optree.

 

 

Die MC is Randfontein se eie Tanya V en natuurlik die pittige Doringdraad.

“Daar is genoegsame parkering en die beste vooruitsig vir die dag is die toegangsfooi – net R30 per persoon,” het Appel gesê.

Related Articles

Back to top button