Local news

Veels geluk liewe Tannie Anna …

Ontmoet een van die dorp se oudste inwoners, die 94-jarige Anna van Niekerk wat praat oor haar grootwordjare en geheime resep vir ‘n lang en gelukkige lewe.

Sy bestuur nog, speel rolbal, slaap nie vroeg nie, bak nog koek en is heeltemal onafhanklik. Ouderdom is maar net ‘n nommer vir Anna van Niekerk van Vriendskaptuiste wat onlangs haar 94ste verjaarsdag by die Randfontein Rolbalklub gevier het.

Die Randfontein Herald het onlangs by een van die dorp se oudste inwoners gaan inloer om uit te vind wie die oulike tannie is. Daar was gesels oor haar grootwordjare, hoe van toeka se tyd tot nou toe verskil asook wat haar geheime resep is vir ‘n lang en gelukkig lewe. Tannie Anna is op 16 Julie 1929 in die Boshoff-distrik in die Vrystaat gebore en het op ‘n plaas grootgeword. Haar pa Martiens het met, onder andere, osse en donkies geboer en kan sy nog onthou hoe sy moes help met perde inspan en water aandra vir badtyd. Volgens Anna was dit omtrent ‘n storie.

“Ons moes water by die put gaan haal, dit in ‘n tank gooi [wat bo op die ossewa is], huistoe gaan, die bad vol maak en dan wag totdat die water op die stoof gekook het. Ons het toe net paraffien- en koolstowe tot ons beskikking gehad,” het Anna verduidelik.

Nadat sy vir ses jaar plaasskool bygewoon het, het Anna haar skoolloopbaan by Hoërskool Dealesville voltooi. Sy onthou nog hoe haar ma ‘n inkomste gemaak het deur wol asook eiers en mielies te verkoop wat op haar pa se plaas geoes is.

“Ons was agt kinders – ses susters en twee broers. Ons was brandarm maar my ouers het hul pennies hier en daar gemaak,” het Anna die Herald vertel.

Slegs drie susters lewe nog naamlik Anna, jongersus Susan (92) en kleinsus Chrissie (in haar 80s).

Na hoërskool het Anna ‘n departementele pos gehad in die poswese en onder andere administratiewe werkies ook gedoen.

Oor haar gesondheid het Anna gesê, “Ek het nooit gerook of buitensporig gedrink nie – daar was wel tye wat ek ‘n drankie sal geniet. Ek probeer altyd myself soveel as moontlik besig hou en geniet selfs so af en toe put-put speel.”

Gevra oor spesifiek haar kwale het Anna genoem dat sy allergies is vir sekere kosse, ‘n bejaarde blaas en rumatiek het asook al ‘n ernstige kolon-operasie moes ondergaan. Verbasend is Anna se hare nie vir haar ‘n ‘groot ding’ soos mens sou dink van bejaarde tannies nie en doen sy maar haar haartjies wanneer sy goeddink. Verder geniet sy ook boeklees en natuurlik haar sepies kyk. Sondae is dit dan kerk wat vir Anna baie belangrik is.

“Ek sou nie hier gewees het vandag as dit nie vir my geloof is nie,” het sy dit duidelik gemaak.

Wat haar familie aanbetref het Anna drie dogters saam met haar man Johannes. Hulle is Berta (70), Petronella (66) en Anneke (61). Haar geliefde man is in 2013 oorlede en onthou sy elke oomblik saam met hom soos gister. Hulle het boonop vir 51 jaar by Middelvlei-plotte gewoon.

“Ek was baie gelukkig en ons het saam ‘n goeie lewe gehad,” het sy met ‘n knop in haar keel gesê.

Laaste maar nie die minste nie het Anna haar geheime resep onthul. Dit kan jy glo behels ‘n goeie gees.

“Jy moet liefde uitdeel, verdraagsaam wees, bid en vergewe. Moet nooit kwaad met kwaad vergoed nie. Wandel saam met die Here, glo in God en hy sal jou lewe bepaal,” het sy met trots afgesluit.

Related Articles

Back to top button