Bekende en geliefde sakeman sterf

Mike Venter was vir jare 'n besigheidseienaar in die dorp.

Dit is nooit maklik om iemand finaal te groet nie.

Henrico Venter wil vir die gemeenskap in kennis stel dat sy pa, Mike Venter, wat vir jare ‘n besigheidseienaar in die dorp was, oorlede is.

Hy het vanaf Oktober 2022 stelselmatig begin agteruitgaan en Henrico vertel dat sy pa op 24 Januarie weens natuurlike oorsake gesterf het nadat hy vir ‘n ruk ook siek was.

Lees ook: Bekende en hulpvaardige inwoner sterf

Henrico Venter wil vir die gemeenskap in kennis stel dat sy pa, Mike Venter oorlede is. Foto: Michelle Roodt.

“My pa was vir baie jare ‘n besigheidseienaar en het ook vir ongeveer ses jaar huise verkoop voor hy die mat-winkel gekoop het. Die besigheid sou vanjaar 17 jaar oud wees.”

Henrico het verduidelik dat sy pa enigiets kon verkoop en dat hy baie mense geken en gehelp het en vir sy werk gelewe het.

“As dit kom by sy werk was hy ‘n perfeksionis. Hy het hoë standaarde gehad.”

Lees ook: Tannie Rix, 87, sterf na kort siekbed

Sy seun het verder sy pa as ‘n mensemens beskryf.

“Hy het daarvan gehou om met mense en kliënte te gesels. Hy het geselsies aangeknoop en gepraat oor rugby, die weer of watookal die geur van daardie week was. Hy was ook mal oor sy rugby en gehou van Afrikaanse musiek asook plaaslike komediante.

“Hy het rugby-memorabilia versamel en het ‘n klomp truie wat hy op veilings gekoop het toe Suid-Afrika die wêreldbeker gewen het en het een van die oorspronklike wêreldbekertruie van 1995.”

Mike laat sy vrou, vyf kinders en sewe kleinkinders na.

Henrico het afgesluit deur te sê, “Al is pa nie meer hier nie, is ek steeds daar om die besigheid te hardloop.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version