Jannas kry sy eerste vroue-waarnemende hoof

Hoërskool Jan Viljoen het geskiedenis gemaak deur 'n vrou as waarnemende hoof aan te stel.

Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) het vir die eerste keer in sy geskiedenis ‘n vrou as waarnemende hoof aan die stuur.

Tydens ‘n onderhoud met die Herald is dit duidelik dat Shereen Mogorosi hier is om ‘n verskil te maak en die skool na nuwe hoogtes te neem.

“Dit is ‘n eer en ‘n voorreg om aangestel te word want dit is my alma mater. Dit is weereens ‘n geleentheid om terug te gee aan my gemeenskap want ek sou nie wees waar ek is as dit nie vir die skool was, en die ondersteuning wat ek gekry het toe ek hier op skool was nie. Dit is vir my ‘n voorreg om legendes se voete vol te staan.”

Sy het verduidelik dat die pos ontstaan het as gevolg van die transformasie wat in die skool plaasvind en die gerugte oor verlede jaar se insident.

Chaos het op Maandag, 14 Februarie 2022 losgebars toe talle gemeenskapslede probeer het om hul stemme te laat hoor. Dit het gevolg op bewerings dat daar ‘n insident van rassisme die vorige Vrydag by die skool plaasgevind het.

Lees ook: WATCH: A closer look at what investigations at Jannas revealed

“Ek dink almal het verskillende agtergronde en niemand verstaan eintlik diversiteit nie. Dit fokus nie net op ras nie, ons het verskillende kulture en almal het verskillende maniere van goed doen. Dit is belangrik om die samehorigheid tussen mense te bring en te verstaan op die einde van die dag is ons almal geskape deur God. Ons moet dit weer terugbring en uitleef. Hulle moet verstaan as jy skooltoe kom dan kom jy na ‘n veilige plek toe wat jou grootmaak vir die buitewêreld.”

Mogorosi het verduidelik dat die hele doel is om weer vrede, waardes en samesyn terug te bring in ‘n funksionerende skool waar kinders die reëls volg. Wanneer dit kom by die voorval van Februarie 2022 het sy vertel ‘lets call a spade, a spade’.

“Ek is baie regverdig, konsekwent en kies nie kante nie, en as so iets weer sou gebeur sal ek onmiddellik die saak hanteer. Wees gemaklik met wie en wat jy is. As jy wit is, is jy wit – aanvaar dit want God het jou so geskape en niemand kan dit verander nie, jy is steeds geregtig tot jou eie opinie, moet dit net nie afdwing op ander nie. As ek swart is, is ek swart – ek moet gemaklik wees met wie en wat God my gemaak het, ek het nie nodig om ‘n verskoning daarvoor te maak nie, as ek ‘n kleuring is, dan is ek ‘n kleuring want dit is die rasse wat ek in die skool het.”

Mogorosi het gesê dat hul ‘n diversiteitskomitee begin het en hul anti-boelie beleid gaan ook daarmee gepaart.

“Diversiteit gaan nie net oor ras nie, dit gaan oor jou seksualiteit, geslag, geloof – dit is alles verskillende goed en jy spreek dit aan en aanvaar dit want dit is die samelewing waarin ons lewe en jy moet dit aanvaar, jy moet mense respekteer vir wie en wat hulle kies om te wees, terwyl dit net binne die perke is.”

Aan die gemeenskap wil sy dat mense nie van die verlede moet vergeet nie, ‘maar eerder daaruit moet leer’.

“Hoërskool Jan Viljoen is ‘n skool waar almal aanvaar word, ons is ‘n skool waar jy nooit voel of jy alleen is nie. Ons bou nou om Jannas se naam weer terug te kry waar dit was. Hierdie verandering sien as ‘n seën en nie net polities soos wat mense dit wil maak nie want dit is nie waaroor dit gaan nie, op die ou einde moet almal ‘n skool hê om na toe te gaan.”

Exit mobile version