Local newsMunicipal

Finsbury, omliggende gebiede meer as 16 dae sonder krag; AGS Middelvlei gryp in

Die kragsituasie in veral Middelvlei, Finsbury, Ten Acres en Peace Haven is so erg dat vele gesinne al vir meer as 16 dae sonder krag sit. AGS Middelvlei het ingespring en besluit om kos te voorsien.

Lede van AGS Middelvlei het hande gevat en ingegryp om talle gesinne in nood van Middelvlei, Finsbury, Ten Acres en Peace Haven (wat al vir meer as 16 dae sonder krag sit) te help.

Een van die AGS Middelvlei–sopkombuis organiseerders Elrie Smith het vertel dat die projek op Donderdag, 19 Januarie afgeskop het.

Lees ook: Hoe lank moet ons sonder krag sit?

“Ons as ‘n welsyn by die AGS Middelvlei was oorval met gesinne wat sonder kos sit en nie in staat is om elke dag kos te kan voorsien nie. Ek het kos vir ‘n bejaarde paartjie gevat wat vuur buite moet maak. Net daar het ek besluit om voelers uit te steek in verband met donasies.”

Sy het verduidelik dat hulle ‘n gekookte ete vir almal gee wat kom haal en as hulle kan, gee hulle iets om te drink en ‘n lekker vir die kinders.
Elrie vertel dat hulle die eerste dag ongeveer 40 borde kos uit gegee het en met die tweede ete was daar meer as 400 mense wat hulle gehelp het met iets om te eet.

Lees ook: Greenfields Estate residents protest over electricity

“Ons wil graag elke dag kook as ons die donasies het. Ons het tans nog net fondse beskikbaar vir een ete, maar ons weet God sal voorsien.”

Hulle beplan om minstens een dag per week met ‘n bord kos te help en hulle glo dat daar voorsien sal word om so veel dae as moontlik te kan help.

“Die nood is groot en daar word daagliks gevra of ons weer kos uit gee by die kerk. Help ons asseblief om ander te help. Enige iets sal help soos niebederfbare produkte, vars vrugte en groente. Ons probeer help sover as wat ons gaan. Baie dankie vir elk een wat deel is van die projek en wat tot dusver gehelp het.”

As jy iets het om te skenk sodat die sopkombuis nog kos kan maak, skakel vir Elrie op 060 970 9763.

Fred Steffers, VF Plus-raadslid vir Randwes Plaaslike Munisipaliteit het bevestig Finsbury is teen Dinsdag, 24 Januarie al weke sonder krag.

“Die VF Plus het die munisipale bestuurder van die Randwes Munisipaliteit skriftelik versoek om oop kaarte te speel met die inwoners van Finsbury wat al sonder krag sit. Finsbury is in die donker gelaat nadat die Lafrage-substasie buite werking gestel is weens ‘n brand.

“Ons ontvang daagliks oproepe van ontstoke inwoners wat inligting verlang oor wanneer die kragtoevoer herstel gaan word. Indien die munisipale bestuurder eerlik en opreg met die inwoners is, kan baie frustrasie uitgeskakel word en kan mense die nodige voorbereidings tref. Nou tas almal in die donker rond sonder enige antwoorde.

“Dit blyk dat die plaaslike regering hoop die probleem gaan weg indien hulle nie met inwoners kommunikeer nie. Hierdie inslag van die munisipaliteit het reeds aanleiding gegee tot ‘n protesoptog op 15 Januarie.”

Related Articles

Back to top button