Plaaslike gesin voer 85 minderbevoorregtes op Kersdag

'n Gesin het besluit om op Kersdag die mense van die dorp te bederf toe hul aan 85 minderbevoorregtes 'n bord kos asook nagereg kon gee.

‘n Gesin van Randgate het besluit om op Kersdag 85 minderbevoorregtes in die dorp te bederf en te seën met ‘n bord kos asook nagereg.

Jessica-Ann Pretorius, haar verloofde Johnny Watson en hul kinders Jamie-lee Watson, 9, La-Rochelle Watson, 7, Jay Watson, 4, en Liam Watson, 3, asook ‘n paar van hul vriende kon hierdie dag moontlik maak.

Liam Watson deel kos uit aan die wat dit nodig het. Foto ingestuur.
La-Rochelle Watson en Jessica-Ann Pretorius skep kos uit. Foto ingestuur.

Lees ook: Government brings food relief to Rand West City communities

“Ons het in Randgate Spar se parkeerarea gestaan en kos uitgedeel. Daar was rys, samp, kookvleis, hoender, aartappels, wortels en ‘n vrugtebakkie vir elk,” het Jessica-Ann gesê.

Daar was ook kolwyntjies gewees wat Jessica-Ann se kinders gebak en versier het.

Sy het verduidelik dat hul bevoorreg was om 85 borde kos te kon uitdeel asook 85 vrugteslaaibakkies en 100 kolwyntjies.

Johnny Watson, Dawie Muller Jnr, Dawie Muller Snr, Jay Watson, Liam Watson, Jamie-Lee Watson en La-Rochelle Watson. Foto ingestuur.
Liam Watson deel ‘n drukkie uit vir iemand wat kos ontvang op Kersdag. Foto ingestuur.

Lees ook: Wings holds successful donation drive at Tambotie

“Ek moet sê ‘n mens ry elke keer weg met ‘n gesig vol trane na so iets. Die wete dat jy iemand kon help al was dit net ‘n bord kos. Jy kon iemand se maag vol maak en vir hulle bietjie hoop gee, ‘n groot gevoel van waardering vir alles in die lewe word elke keer met nuwe oë raakgesien. Die kinders was net so trots want hulle vertel al heel vakansie vir almal hulle het Liewe Jesus se hart trots gemaak om mense te help.”

Jessica-Ann het gesê dat hul as huisgesin dit as ‘n voorreg beskou om ander te kan help, al is dit net een persoon ‘n dag.

Jay Watson, Liam Watson en Jamie-Lee Watson besig om kolwyntjies te versier.
Almal is baie bly om ‘n verskil te maak op Kersdag. Foto ingestuur.
La-Rochelle Watson en Jessica-Ann Pretorius skep kos op. Foto ingestuur.

“Daar is so baie mense wat daagliks honger gaan slaap. Ons leer die kinders en wys elke dag vir hulle in daai opsig dat hulle dankbaarheid teenoor alles in die lewe moet toon. So, ons het die jaar besluit maak nie saak hoe of waar nie, ons gaan Kersdag mense probeer help. Al is dit net met ‘n bord kos.”

Dit was ook nie die laaste keer wat hul so iets gaan doen nie, sy het vertel dat hul besig is om te kyk vir borge sodat hul hierdie op ‘n gereelde basis kan doen.

Exit mobile version