Drie Riebeeckrand-leerders se selfdood skok dorp en skool

Skoolhoof van Hoërskool Riebeeckrand reik verklaring uit na drie leerders se selfdood. 'Deeglike voorlopige interne ondersoek toon dat daar tot dusver by nie een van die gevalle bewyse van boeliery bevind kon word nie' – Annelize van den Berg.

Na die onlangse gebeure by Hoërskool Riebeeckrand waar drie leerders weke uitmekaar oorlede is, het skoolhoof Annelize van den Berg ‘n verklaring namens die skool uitgereik.

“Die hele skoolgemeenskap is getraumatiseerd deur die onlangse gebeure waar drie leerders selfmoord gepleeg het. Die drie gevalle is onafhanklik van mekaar.

• Lees ook: Avantè Primary School learner allegedly takes his own life

“Die skool wil dit duidelik en onomwonde stel dat ons ‘n streng boeliebeleid in plek het en dat geen boeliery by die skool geduld word nie. Daar is ook ‘n goeie funksionerende dissiplinêre stelsel in plek, met dissiplinêre voogde, die adjunkhoof en ons skool se advokaat aan die stuur daarvan. Leerders word ingelig oor hoe om boelies te identifiseer en watter stappe hulle kan neem om dit aan te meld. Hoërskool Riebeeckrand wil ‘n veilige hawe vir ons leerders en personeel wees. Dit is wel ‘n gegewe dat boeliery orals in die samelewing en in alle skole gevind word en dit is totaal onaanvaarbaar.”

Sy het gesê dat die skool ‘n berader het wat leerders met emosionele probleme bystaan en die berader se deur is vir enige kind, enige tyd oop en die leerders is bewus daarvan.

Ongelukkig is daar baie leerders wat nie oor hulle emosionele pyn en swaarkry praat nie en is dit dus onmoontlik om so leerder te identifiseer en by te staan.”

Volgens Van den Berg, na ‘n deeglike voorlopige interne onderoek, stel die skool dit kategories dat daar tot dusver by nie een van die gevalle bewyse van boeliery bevind kon word nie.

• Lees ook: Help stop teen suicide!

“Indien daar enigsins so iets relevant is, was die skool nie daarvan bewus nie. Ons is egter steeds besig met ondersoeke en sal die waarheid uiteindelik seëvier. Een leerder se ouer het reeds op sosiale media te kenne gegee dat boeliery beslis nie die oorsaak was nie.

Lede van die gemeenskap (en sommer van orals) maak onverantwoordelike en kwetsende afleidings waarvan hulle die feite nie ken nie. Hierdie afleidings, leuens en aanmerkings veroorsaak verdere trauma by die ouers en die skoolgemeenskap, en skaad die goeie naam van ‘n goeie funksionerende skool met onberekenbare nadelige gevolge.”

Sy het vertel dat Hoërskool Riebeeckrand treur oor die heengaan van hierdie drie leerders.

“Die kneel down-inisiatief is ‘n oproep om die skoolgemeenskap te heel. Ons leerders bly steeds ons prioriteit en ons sal voortgaan om hulle te ondersteun sover dit binne ons vermoë is. Ons vra die gemeenskap om eerder die skool in julle gebede op te dra aan ‘n Hoër Hand wat ons skool in Sy beskerming sal hou.”

Die Gauteng Departement van Onderwys is ook genader vir kommentaar.

Exit mobile version