Babies & ToddlersKidsLocal news

Hulp gevra sodat driejarige weer kan hoor

Die driejarige Meliska Jordaan wat tans met gehoorverlies struikel, is ook onlangs met serebraalgestremdheid gediagnoseer.

‘n Bruinoog dogtertjie met die mooiste persoonlikheid het die gemeenskap se hulp nodig om weer te kan hoor.

Die driejarige Meliska Jordaan wat tans met gehoorverlies struikel, is ook onlangs met serebraalgestremdheid gediagnoseer.

Haar ma, Clarissa Jordaan, 23, het die Herald vertel dat sy sedert haar dogtertjie se geboorte, vermoed sy dat iets nie pluis is nie.

“Van geboorte af was daar gesê Meliska het Cerebral Palsy (CP). Ons het dit toe nie ernstig opgeneem nie want dit was net ‘n vermoede. Net onlangs het ons agtergekom sy kan nie lekker hoor in haar linkeroor nie. Toe laat toets ons haar ore waar daar bevestig is dat klanke nie deur albei ore gaan nie, sy hoor basies net sekere klanke.”

Meliska was toe ook na ‘n pediater geneem waar daar bevestig is dat sy wel serebraal gestremd is.

“Dit het te doen met koordinasie van beweging, loop en praat en ons gaan kyk of ons inplantings vir haar ore kan doen. Sy kan nie praat nie en sal onder andere terapie en inplantings in haar ore moet kry om haar gehoor te verbeter.”

Meliska hou daarvan om Peppa Pig te kyk, musiek te luister en te swem.

“Ons het ongelukkig nie ‘n mediese fonds nie en boonop moet Meliska in ‘n spesiale skool geplaas word. Ons hoop en glo sy sal met maats kan speel … sy sal dalk net nie lekker met hulle kan kommunikeer nie.”

Haar mamma het vertel dat sy op die oomblik normaal praat met haar dogter. Daar word wel handtekens gebruik sodat sy weet wat om te doen en wat om nie te doen nie. Clarissa het verder verduidelik dat sy nog gewoond moet raak aan alles omdat dit ‘n aanpassing is.

“Sy loop al darem maar ons moet haar handjie vashou, sy sal sommer buite toe loop.”

Clarissa vertel dat hulle baie graag inplantings vir Meliska wil kry en sal enige hulp baie waardeer.

“Dit is dan vir ons ‘n stappie vorentoe wat beteken ons sal beter met Meliska kan kommunikeer aangesien sy beter sal kan hoor.”

As jy ‘n behoefte het om vir klein Meliska te help, skakel vir Justin by 073 764 1105.

Clarissa Jordaan met haar dogter Meliska wat die gemeenskap se hulp nodig het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button