Local newsUpdate

Gru-ongeluk in Pinehaven: ‘n Huldeblyk aan Arno

Familie en vriende se harte is stukkend geskeur nadat Arno van Loggenberg, wat die grusame ongeluk by die Pinehaven-kruising oorleef het, dae later in die hospitaal oorlede is.

Die 24-jarige Arno van Loggenberg van Randfontein wat onlangs ernstig beseer is ná die gru-ongeluk by die Pinehaven-kruising het dae later in ‘n privaathospitaal aan sy beserings beswyk.

Die familie was kort na die ongeluk gereeld met die Herald in kontak en is daar op 11 Oktober oor sy toestand berig. Arno se ma, Madre, het die Herald vertel hoe familie en vriende se harte in stukke geskeur is nadat haar seun daardie middag – vier dae na die ongeluk – in die hospitaal oorlede is.

• Lees ook: Wonderwerk toe R’fontein man grusame ongeluk by Pinehaven-kruising oorleef

Madre het vertel dat haar seun ‘n motorwerktuigkundige vir ‘n maand by sy nuwe werk was. Hy en sy vriend Nevin Jacobs (bestuurder van die geel VW Beetle wat op die toneel tragies oorlede is) saam op pad werk toe was toe hul betrokke was in die ongeluk.

“Ek sal hom onthou as my seun met die groot hart en glimlag,” het sy vertel.

Sy het verduidelik dat Arno ‘n rustige kind was wat altyd geluister het en die vrede bewaar het. Hy was mal oor ou karre, model karre en sy Hot Wheels was sy plesier. Arno se passie en stokpertjie was natuurlik karre gewees, en hy het ook ‘n groot liefde vir sy honde gehad.

Die geel VW Beetle waarin Arno van Loggenberg ‘n passasier was. Foto: Clinton Botha.

“Sy glimlag met sy glimlaggende oë en sy uitstekende persoonlikheid sal ek altyd na aan my hart dra.”

Madre het vertel dat haar seun se grootste droom was om ‘n Porche te ry, wat hy die kans gehad het om te doen twee weke voor die ongeluk by die kruising.

Arno los sy ma, boetie, sy meisie, sy peetma’s, familie, vriende en werkskollegas agter.

Sy begrafnis was op Saterdag, 22 Oktober by Westpark begrafplaas.

Madre vertel dat haar gevoel oor daardie kruising is, dat geen trok by daardie bult moet afry nie. Sy glo die statestieke bewys dat vir die laaste vyf jaar, daar ongelooflik baie ongelukke plaasgevind het, en will weet wat van die planne en begroting geword het om ‘n brug [flyover] oor daardie kruising te bou?

“Wat het van die begroting geword van vyf jaar terug? Daar was die Vrydag na my seun se ongeluk nog ‘n ongeluk waarby ‘n trok betrokke was, en verlede week weer een … wat gaan ons doen om hierdie probleem aan te vat? Moet ons die gereg in eie hande neem en spikes voor die tippers gooi? Wat kan ek doen?” het Madra verplettered gesê.

Related Articles

Back to top button