Local newsPrimary School

Onderwys is haar lewe …

'Mense besef nie watter rol ‘n onderwyser in ‘n kind se lewe speel nie' – Laerskool Rapportryer-onderwyser.

Onderwys is ‘n passie en ‘n roeping, en ‘n onderwyser van Laerskool Rapportryer leef haar droom en passie ten volle uit.

Die 32-jarige Elmarie Myburgh gee wiskunde vir graad 5’s by Rappies waar sy al 10 jaar ‘n verskil in leerders se lewens maak.

Sy het verduidelik dat sy besluit het om ‘n onderwyser te word om ‘n verskil te maak, omdat ‘n skool die beste plek is waar mens dit kan doen. “Ek voel ‘n mens kan soveel in kinders se lewens insit want hulle gaan eendag die toekoms wees.”

Haar pa, Rappies-oudhoof Carel Stoop het haar geïnspireer en vir haar gesê dat daar nie ‘n beter beroep is vir ‘n vrou nie. Sy was nog nooit spyt oor haar besluit nie want sy bestee soveel tyd saam met die leerders.

Sy het besluit op wiskunde as vak omdat dit absoluut haar passie is – saam met dans en musiek natuurlik. Sy was ook verantwoordelik vir vanjaar se briljante revue.

“Mense besef nie watter rol ‘n onderwyser in ‘n kind se lewe speel nie. Die mense wat in die onderwys is, is definitief nie hier vir die geld nie. Ons kry ons beloning deur die verskil wat ons maak. Partykeer dink mense ons is net onderwysers maar ons is alles van sielkundiges tot ouers want party van hulle het nie daardie rolmodel by die huis nie. Hulle gee hul diepste vir ons en ons kan daarmee werk soos klei.”

Myburgh het verduidelik dat sy die briefies geniet wat sy van leerders ontvang want dit herinner haar weer dat al sou sy ‘n afdag hê sy steeds ‘n verskil maak. “Jy sit met 40 kinders voor jou en voel partykeer jy kom nie by almal uit nie, maar daardie een brief laat my voel ek is oukei en beteken nog iets.”

Sy het vertel dat iemand wat onderwys as beroep oorweeg mooi daaroor moet dink omdat dit ‘n voorreg en ‘n verantwoordelikheid is en nie net ‘n halfdagwerk nie.

“Ouers laat hul kinders in ons sorg, en ons het die vermoë om hulle te kan vorm, maar ons moet dit op die regte manier doen. Onderwys is my lewe en my passie, dit is nie net ‘n werk nie.”

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button