Local news

Vriendinne beplan spesiale Kersfees vir kinders

Hul kort hulp van die publiek in die vorm van donasies om dit te kan doen, en hulle verwag dat 110 kinders die partytjie in Desember gaan bywoon.

Twee vriendinne maak elke jaar seker dat die kinders in hul omgewing ‘n onvergeetlike Kersfees-bederfdag sal hê.

Karen Botha, 52 en Magriet Botha, 63 hou elke jaar ‘n Paas- en Kerspartytjie vir die kinders van Rikasrus maar hulle kan dit nie doen sonder donasies nie.

Die gedagte het ontstaan toe ‘n seuntjie in die winkel in Highway gehuil het oor ‘n geskenk wat hy nie kon kry nie. Ons het die eerste partytjie in 2014 aangebied,” het Karen vertel.

Hulle kies elke jaar ‘n ander tema en vanjaar wil hulle ‘n Walt Disney-tema hê. “Ons dink daaraan om kostuums soos dié van Mickey Mouse, Minnie Mouse, Donald Duck, Daisy Duck, Pluto en Goofy te kry, en dalk ‘n tent op te slaan en dit soos ‘n kasteel te laat lyk.”

Hulle maak voorsiening vir babas en kinders tot op 13 jaar en verwag vanjaar omtrent 110 kinders.

Die Kerspartytjie word beplan vir Saterdag, 3 Desember maar hulle het borge nodig om alles moontlik te maak.

Volgens Karen kort hulle iets vir die kinders om te eet, koeldrank, geskenke en lekkers. Vir dit wat nie geborg word nie moet hulle uit hul eie sakke betaal.

Ons benodig springkastele, enige bederfgoed wat ons in die kinders se lekkergoedpakkies kan sit, asook geskenke. Die fondse wat ons bymekaar kry is gewoonlik uit ons omgewing.”

Sy het vertel dat elke pakkie en kontantbedrag wat hulle kry dinge vir hulle makliker maak. Met die kontant koop sy geskenke, en bestee gewoonlik R30 tot R40 per kind daaraan.

“Daar is dinge wat die kinders moet kry soos inkleurboeke met kryte, lekkergoedpakkies, kos, geskenke, speelplek wat pret is, en iemand wat vir hulle die Bybelstorie vertel,” het Karen verduidelik.

Hulle het ook ‘n varkie persent gekry wat hulle tans uitloot vir fondse om geskenke te koop. Die lootjies kos R50 elk en die kompetisie sluit op 5 November wanneer die trekking plaasvind.

As jy hulle kan help om die kinders se dag onvergeetlik te maak, skakel vir Karen by 079 260 1957.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button