Local news

Hervormde Gemeente Sionspoort se Vleisfees ‘n jaarhoogtepunt

Die Hervormde Gemeente Sionspoort het op Saterdag 30 Julie hul tweede Vleisfees aangebied en dit was omtrent 'n fees.

Inwoners van Randfontein en omliggende gebiede, en mense van selfs so ver as die Noord-Kaap en Vrystaat het by die honderde opgedaag vir die Hervormde Gemeente Sionspoort se Vleisfees by die Tuinhekkie in Elandhoewes op Saterdag, 30 Julie.

Dit was die tweede fees van sy soort nadat die eerste Vleisfees in 2019 aangebied is.

Volgens Appel Ernst, mediabestuurder van die Vleisfees was die publiek duidelik uitgehonger na die ontwrigting wat die pandemie veroorsaak het.

Angelique Kotze en Sharleen Billing besig om te sokkie.

“Die Covid-pandemie het verskeie uitdagings gebied, maar dis met dankbare harte dat ons gesien het hoe ons gemeenskap uitgehonger was vir lekker kuier. Ons oogmerk met die Vleisfees was om vir die gemeenskap van Randfontein ‘n geleentheid te skep om weer in ‘n veilige omgewing sosiaal te verkeer.

Die hoofklem van die fees was egter om goeiegehalte-vleis aan ons gemeenskap te bring.

“Die aantal besoekers wat deur die loop van die dag ons fees besoek het, het alle verwagtinge oortref. Dit was ‘n wonderlike gesig om soveel ou vriende en familie weer daar raak te loop. Die gemeente het die voorreg gehad om hierdie geleentheid vir ons eie gemeenskap aan te bied. Ons het selfs besoekers van regoor Gauteng, uit die Vrystaat, Noord-Kaap, Noordwes en Mpumalanga ontvang. Die feesgangers se deurlopende kommentaar was dat dit vir hulle lekker was om weer soos van ouds net te kuier. Daar was kos te kies en te keur, en die terugvoer was deurgaans positief.”

Dwayne Pretorius saam met sy dogters Danielle, Rochey en Micheala.

Besoekers kon smul aan pannekoek, braaivleis, pap en kaiings, pap en skilpadjies, boereworsrolle, ribrolle, sosaties, kerrie en rys, yankees en vetkoeke.

Appel het entoesiasties vertel hoe die fees verloop het. “Daar het ‘n gees van welwillendheid geheers en spontane geselsies met vreemdelinge het verseker dat die Fees met nuwe vriende verlaat is. Die ongeveer 250 stalletjies het goeiegehalte-produkte gebied en hulle is goed deur die besoekers ondersteun. Groter uitstallers soos die trekkers en motors het ook baie voete gelok. Die uitstallers se positiewe gesindheid het ook natuurlik bygedra tot die sukses van die dag.

Riley en Caleb Smit saam met ouma, Tanya Cowan.

“Die arena-aktiwiteite het groot aftrek geniet en veral die pom-poms, toutrek en volkspele is goed ondersteun. Die Oshoek Boereorkes het die voete laat jeuk en alle vertonings is goed bygewoon. Die spontane deelname aan aktiwiteite was vir ons ‘n teken dat die besoekers hulle gate uit geniet het.

Hoërskool Bekker se diere het die jongspan verstom en die veteraanmotors het verseker dat die ouer garde met nostalgie kon terugdink aan hul jeug, terwyl die interessante speelterrein gesorg het vir ure se vermaak.

Driekie van den Berg, Hannelie Coetzee, Maxine Pretorius en Diana Joarquin wat die moerkoffie-stalletjie beman het.

“Daar was ure se goeie musiek op die verhoog, en ons plaaslike kunstenaars het nie ‘n tree teruggestaan vir meer bekende kunstenaars soos Heidi, Germandt Geldenhuys en Fatman nie.

“Sionspoort Gemeente dank die Here vir die genade wat ons ontvang het om die geleentheid aan te bied. Ons dank aan Randfontein-gemeenskap, in besonder ons sakegemeenskap, asook alle Sionspoort-vriende wat ons ondersteun het.

Die Vleisfees was ‘n toonbeeld van wat bereik kan word as ‘n gemeenskap saamstaan.”

Hennie Esterhuizen, Berny Brown en Randfontein se eie sangsensasie Tanya V
Frikkie Vermeulen saam met sy driejarige dogter, Ilzirie.
Ruhan van den Berg en sy eenjarige seun, Richann.
Alta Greyson, Nikay Greyson, Marinda du Plessis en Wihan du Plessis.
Roelien Groenewald en Heinrich Basch.
Hoërskool Bekker se toutrekspan in aksie.
Geraldine Startup, Amore Startup en Cloinda van Tonder.
Aidon Smith, Anica van der Westhuizen en Peet Wilters.
Clinton Bianchino saam met ‘n sesjarige boerboel, Kalashniko (Nikky).
Daar was ‘n lang lys van kunstenaars wat opgetree het.
‘n Boerboel-skou was ook ‘n groot trekpleister.
Deacan Rossouw.
Michael Grobler, ‘n bekende besigheidsman in Randfontein lei sy toutrekspan van voor. Hulle het immers as wenners uit die stryd getree!
Nog manne in aksie tydens die toutrek-kompetisie.

 

Jannas se jongmanne in aksie tydens die toutrek-kompetisie.
Die interessante speelterrein het gesorg vir ure se vermaak.
Jozia Bezuidenhout saam met sy tweejarige boerboel, Beesblaas.
Riebeeckrand se jongmanne in aksie tydens die toutrek-kompetisie.

Related Articles

Back to top button