MunicipalUpdate

Waterkrisis in Venterspos duur voort weens diefstal

Venterspos-inwoners is keelvol en voel hulle word afgeskeep as gevolg van die herhalende waterprobleme wat hul ervaar.

Die Venterspos-gemeenskap sit vir ‘n tweede keer sonder lopende water, die keer weens waterpyp-diefstal.

Inwoners moes gedurende die feestyd en asook ‘n deel van die nuwe jaar sonder water klaarkom. Meer as drie weke het verloop voordat die inwoners die geluid van lopende water kon hoor en geniet.

RandWes Plaaslike Munisipaliteit het toe te werk gegaan om die gesteelde waterpyp te vervang met bystand van AfriForum se Westonaria-tak. Vroeg vanjaar was die waterpyp vervang met ‘n plastiek pyp, maar dié waterpyp is op 16 Januarie gesteel.

• Lees ook: AfriForum sit skouer aan die wiel vir lopende water in Venterspos

André Alberts wys na die gesteelde pyp.

Inwoners het daardie Dinsdag vinnig agtergekom daar is fout met die watertoevoer en nadat hulle nuus gehoor het van die waterpyp wat gesteel is, het die inwoners geweier om die situasie ligtelik op te neem.

Rensia du Bruyn het vertel dat sy Dinsdagaand al die bottels en kanne begin volmaak het. Sy vermoed dat die waterpyp ongeveer 19:00 gesteel was en daarom het hul watertoevoer kort daarna begin verminder.

Daagliks gebruik Du Bruyn en haar man ongeveer 70 liter water. Met hierdie 70 liter was Rensia een keer ‘n dag skottelgoed, een bonnel wasgoed en spoel sy die toilet.

Rensia du Bruyn teken ‘n brief vir Teboho Potse van TCM Developments om te bevestig dat sy water van die watertenkwa ontvang het.

“Wat doen mens met 70 liter ‘n dag? Boonop al die ander noodsaaklike take wat water benodig, moet die diere ook water kry. Die week van Kersdag toe dit gereën het, het ek die reënwater opgegaar om my hare te was. Op Kersdag het ek buite gestaan en die reënwater gebruik om my en my man se klere te was,” het Rensia vertel.

Willie du Bruyn beweer dat die munisipaliteit geld gebruik om straatligte reg te maak en om nuwe huise te bou maar dat daar geen beplanning vir die herstelwerk van die waterpyp gemaak is nie.

“Eers vertel die munisipaliteit dat die watertoevoer afgesny is as gevolg van vandalisme. Dan vertel hulle jou dat ‘n staalpyp te duur is en daarom gaan hulle ‘n plastiek pyp gebruik om die gesteelde waterpyp te vervang. Gister [19 Januarie] het ons ‘n boodskap ontvang dat die munisipaliteit weer besluit het om ‘n staalpyp te gebruik. Die munispilaiteit het die kennisgewing versprei dat hulle herstelwerk begin maar as ons by die waterpyp kom dan is daar niemand wat die pyp vervang nie,” vertel hy.

Volgens Jean-Pierre Damon affekteer die tekort van water families met klein kinders baie erg.

“Ek het ‘n sewe maande oue baba by die huis. Sy het onlangs ‘n uitslag gekry omdat ons haar nie behoorlik kon was nie. Ek werk elke dag van 07:00 tot 19:00 en die tekort aan watertoevoer beïnvloed selfs my werk,” het Damon vertel.

“Ek is al so negatief teenoor die munisipaliteit. Hulle het ons hoe lank gelos om te struikel sonder water en elektrisiteit die afgelope feestyd. Dit was my baba se eerste Kersfees en ons moes dit spandeer sonder water. Nou sit ons weereens sonder water.”

• Lees ook: Venterspos: From a water crisis to power outages

Op 20 Januarie het Du Bruyn en talle ander inwoners in spanning gewag vir die watertenkwa om hul bottels vol water te maak. TCM Developments het omstreeks 15:00 Du Bruyn se bottels volgemaak.

Sy het verduidelik dat die watertenkwa nie ‘n vaste skedule het om water af te lewer nie en daarom het sy van 12:00 gewag vir die wa om by haar huis te stop.

“Dit maak my hartseer om bewus te wees van ander mense se omstandighede. Baie mense struikel om hul swaar waterbottels te dra. ‘n Mens moet ook in ag neem dat talle inwoners daagliks werk toe gaan asook skoolkinders wat skool toe moet gaan. As die watertenkwa verby hul huis ry wanneer hul nie tuis is nie, dan het daardie mense net eenvoudig nie water vir die dag nie,” het sy vertel.

Die waterkrisis beïnvloed nie net individuele inwoners nie, maar besighede.

TCM Developments maak die bottels vol water.

Corrie en André Alberts het hul eie besigheid in Venterspos gestig en volgens hul het die waterkrisis ‘n groot impak.

“Ons het in hierdie week ‘n nuwe kliënt gekry. Ons kon nie die kliënt se kar was nie want ons het nie toegang tot lopende water nie. Ons moes verskonings maak en om verskoning vra. Dit is nie hoe ons diens wil lewer nie,” het Corrie vertel.

Corrie het bygevoeg dat haar man, André, in Venterspos woonagtig is vandat hy drie jaar oud is. Sy vertel verder dat Venterspos ‘n spogplek was sonder probleme. Maar nou voel sy dat Venterspos afgeskeep word.

Woordvoerder van die burgermeester Tshidiso Tlharipe het bevestig dat die munisipaliteit ‘n diensverskaffer aangestel het om die pyp te herstel.

“Dit is ‘n uitdaging van veroudering van infrastruktuur in en om Westonaria. Die munisipaliteit het ingenieurs aangestel om te help met kosteberekening van die vervanging van asbespype. Ons herstel nou pype as daar gebarste pype is en ons het ook ‘n kontrakteur wat help met gebarste pype,” het Tlharipe verklaar.

Die waterpyp was op 22 Januarie vervang en inwoners kon weer lopende water geniet. Inwoners is steeds bekommerd aangaande die konstante waterprobleme en vrees dat dit nie lank gaan wees voor dit weer navore kom nie.

“Die pyp word vervang, maar hoe lank gaan ons wag tot die probleem weer manifesteer?” het Corrie gevra.

Related Articles

 
Back to top button