Slaggate weer ‘n groot probleem by Ram

Ouers sowel as die skool se bestuur is bekommerd oor die slaggate wat oral om Laerskool Randfontein opduik.

Slaggate rondom Laerskool Randfontein hou ‘n groot risiko in vir nie net motoriste nie, maar ook vir die leerders van die skool.

‘n Ouer van die skool het vertel dat dit nou al maande so is en vererger by die dag.

• Lees ook: Slaggate by Ram iets van die verlede

“Die veld aan die oorkant van die skool wat aan die munisipaliteit behoort, aan die treinspoor se kant, se gras is so lank en daar is so baie mense wat daardeur loop om hul kinders by die skool te kry. Die rommel word ook net daar gestrooi en niks word deur die munisipaliteit skoongemaak nie.”

Daar is ook gesê dat niks omtrent die rommel, wat gestrooi word, gedoen nie. Foto ingestuur.

Die ouer het vertel dat dit regtig ‘n groot kopseer is.

“Mense het wel onlangs by die sportgronde se hek gate opgevul, maar as jy om die skool ry, veral aan die agterkant, lyk dit rof.”

Skoolwoordvoerder Annie Nolan vertel dat die slaggate om die skool vir hulle van groot kommer is, soveel so dat die ouers nie weet waar om te parkeer nie en dit stel die kinders wat uitklim en op die sypaadjie moet loop, in gevaar.

‘n Reuse slaggat wat ‘n groot gevaar vir motoriste inhou. Foto ingestuur.

“Ouers moet ver van die sypaadjie af stop en ook terselfdertyd passop vir die slaggate want hulle gaan hulle bande beskadig. Hulle kinders moet dan op ‘n manier daardeur en as dit gereën het, is dit ‘n groot en vuil gemors. Dit is net verskriklik.”

Sy vertel verder dat nadat dit gereën het moet die ouers uitklim en hulle kinders oor die slaggate dra om hulle droog te hou, maar dan is die ouers vuil.

Daar is niks wat ons daaraan kan doen nie, ons hoof het al twee keer op die skool se onkostes die slaggate reggemaak, maar dan vorm net nuwes.”

Randwes Plaaslike Munisipaliteit-woordvoerder Phillip Montshiwa was genader vir kommentaar, maar teen druktyd is geen kommentaar gelewer nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version