Slaggate in R28 kry aandag

Slaggate in die R28 tussen Krugersdorp, Randfontein en Westonaria word tans herstel. 'Ons versoeke het vrugte afgewerp' – VF Plus.

Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer is uiteindelik besig om slaggate in die R28 reg te maak.

Amanda de Lange, VF Plus LPW: Gauteng het gesê dit is weens druk van die VF Plus.

Lees ook: Inwoners, GPF maak nog slaggate reg

“Die VF Plus se herhaaldelike versoeke die afgelope jaar aan die Gautengse Wetgewerskomitee oor paaie en vervoer vir die herstel van slaggate op die R28 tussen Krugersdorp, Randfontein en Westonaria het vrugte afgewerp. Verskeie spanne van dié departement het Vrydag veral aan die gedeelte van die R28 vanaf Mohlakeng en Westonaria gewerk om slaggate te vul.

Rioolwater wat jare lank op die padreserwe vanaf Mohlakeng vloei en uiteindelik in die Donaldsondam beland, word ook herlei.

“Die rioolwater vloei vanuit die Donaldsondam deur spruite en klein riviere na die Mooirivier in Potchefstroom. Die rioolwater het deur die jare die padoppervlak beskadig en groot slaggate gevorm.”

Werkerspanne besig om dele van die pad te teer. Foto ingestuur.

De Lange het gesê die VF Plus het ook die betrokke komiteevoorsitter, Jacob Mamabolo, versoek om ondersoek in te stel na die infrastruktuur in Mohlakeng wat nie die groot hoeveelhede riool kan hanteer nie wat pype gereeld laat bars.

Die besoedelde water vorm ‘n natuurlike vleiland voor die Donaldsondam waar dolomitiese grond voorkom.

“Werkerspanne het ook aan die N14 vanaf Krugersdorp/ Brandvlei/ Ventersdorp gewerk waar die Krugersdorp/ Carletonville-kruising met ‘n meter aan beide kante verbreed is.

Lees ook: Daar’s ‘n gevaarliker pad as die R28

“Dit is om te sorg dat swaar vragmotors makliker in die kruising kan draai. In die verlede moes die verkeer stop om dié vragmotors ‘n geleentheid te gee om te draai. Slaggate is ook herstel.

Die herstelwerk aan die N14 en R28 is deur provinsiale wetgewerslede en raadslede van die Wes-Rand Distrikmunisipaliteit besoek.”

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die Gautengse regering om sy plig teenoor padgebruikers en inwoners na te kom.

Exit mobile version