Crime

Skietvoorval eis gewilde reaksie-offisier in veiligheidskringe

Mapogo-offisier, Gerhardus Strydom, sterf in tragiese skiet voorval.

Gerhardus Strydom (58), ‘n reaksie-offisier van Mapogo A Mathamaga, is vroeër die week noodlottig gewond terwyl hy aan diens was.

Volgens Mapogo se operasionele bestuurder, Danie Vermeulen, het Strydom Sondagaand, 25 Augustus gereageer op ‘n toneel van een van hul kliënte rakende ‘n poging tot inbraak. Op die perseel het Strydom drie verdagtes opgemerk waar een sy wapen op hom gerig het. Strydom is toe kort ná middernag op Maandagoggend, 26 Augustus doodgeskiet.

Vermeulen sê Strydom se afwesigheid word deur baie in sekuriteitskringe betreur.

“Met swaar harte betreur ons die verlies van ons gewaardeerde Gerhardus Strydom. Die afgelope ses jaar was Gert ‘n integrale deel van die Mapogo-familie, wat toewyding en moed in elke aspek van sy werk beliggaam. Gerhardus was ‘n baie bedraagsame mens wat altyd die ander wang gedraai het. Hy was bereidwillig en bekwaam. In die ses jaar wat hy vir Mapogo gewerk het, het ek hom nog nooit kwaad gesien nie. Hy het altyd ‘n glimlag gedra,” het Vermeulen vertel.

Hy het verder verduidelik dat Strydom ‘n volkome deel van die Mapogo-familie gevorm het.

“Gert se onwrikbare toewyding en dapperheid sal altyd onthou en geëer word. Hy sal diep gemis word deur ons almal,” het Vermeulen afgesluit.

Die Randfontein Herald het wel kontak met ‘n familielid gemaak wat nie op hierdie stadium kommentaar wou lewer nie.

Related Articles

Back to top button