Crime

Plaasmoordverslag toon minstens 77 aanvalle, nege moorde

Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy plaasmoordverslag vir die eerste kwartaal van 2023 bekendgestel wat toon dat daar minstens 77 plaasaanvalle was.

AfriForum se plaasmoordverslag vir die eerste kwartaal van 2023 toon dat minstens 77 plaasaanvalle, waartydens nege moorde gepleeg is, in Januarie tot Maart vanjaar plaasgevind het. Dié verslag is Maandag, 22 Mei bekendgestel en fokus op plaasaanvalle wat vir die eerste kwartaal van 2023 geverifieer kon word.

• Lees ook: BRIEF: Jongste misdaadstatistieke kommerwekkend

Volgens AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid Jacques Broodryk is dié syfer kommerwekkend en indien dit vergelyk word met die eerste kwartaal van 2022, waartydens 80 aanvalle (insluitende 11 moorde) plaasgevind het, is dit duidelik dat daar nie ’n noemenswaardige afname tussen hierdie twee tydperke is nie.

Broodryk sê die verslag het ook bevind dat die meeste aanvalle in Gauteng plaasgevind het, terwyl die naasmeeste in Noordwes aangeteken is.

Die verslag beklemtoon daarbenewens dat die meeste van die slagoffers bo die ouderdom van 60 jaar is en dat die meerderheid van aanvalle op Saterdae plaasgevind het.

“AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling se databasis toon dat daar tot dusver slegs nege verdagtes uit die 77 insidente aangekeer is.

• Lees ook: VIDEO: Gemeenskap trek saam teen plaasmoorde

“Die feit dat so min verdagtes vasgetrek word skep ’n groot moontlikheid dat persone wat nie vasgetrek is nie weer aanvalle sal loods. Ons doen ’n beroep op persone wat in landelike gebiede woon en werk om hulself te bemagtig. Ons plaaslike veiligheidstrukture het die afgelope paar jaar ’n omvattende veldtog van stapel gestuur om gemeenskappe deur opleiding te bemagtig. Dit sluit onder meer in noodhulp- en wapenopleiding sowel as veiligheidsassessering wat op plaaswonings gedoen kan word,” sluit Broodryk af.

Related Articles

Back to top button