News

Platsak in Januarie? Beperk jou Desemberskuld met die volgende wenke …

Dis skokkend hoe baie mense bereid is om skuld te maak net vir Desemberuitgawes.

Afrikaans.com het wenke gegee sodat jy nie in die helfte van die nuwe jaar steeds steier onder die Desemberskuld nie.

Januarie voel altyd soos drie dekades wat kompak binne 31 dae verpak is, met die eerste dekade wat die langste voel. Dis skokkend hoe baie mense bereid is om skuld te maak net vir Desemberuitgawes. Kersfees is veronderstel om ‘n wonderlike tyd van die jaar te wees, waartydens ons omring word met ons geliefdes en onsself knuppeldik eet. So lekker as wat dit is om ons mense te bederf en te gee en gee en gee – so hard tref realiteit jou as jy in Mei-maand steeds jou kredietkaart probeer afbetaal as gevolg van die Kersseisoen.

Probeer die volgende:

• Moenie ’n geskenk koop net vir sommer nie … ’n onlangse studie beweer dat daar tot $15.4 biljoen aan geskenke bestee word wat nie eintlik deur die ontvanger benodig of begeer word nie. Vra eerder wat iemand nodig het en hou dit prakties …
Nog ’n idee is om eerder ’n ervaring of geskenkbewys te koop.

• Stel ’n begroting op en hou daarby!

• Gebruik jou spaargeld wys. Beleggingsrekeninge, noodfondse en ander spaargeld wat eintlik gemik is op iets anders, moet nie nou skielik getap word vir in-die-oomblik aankope nie. Weerstaan die versoeking!

• Gebruik lojaliteitsbesparings en geskenkbewyse.

• Betaal die kredietkaart af aan die begin van Januarie – en as dit begin lyk asof jy dit nie sal kan doen nie, want die skuld raak te veel – draai bietjie die krane toe en hou op spandeer.

• Vergelyk pryse en snuffel vir winskopies. Moet nie net die eerste beste ding koop nie, kanse is baie goed dat daar iemand is met ’n beter prys.

• Begin ’n sinkfonds in Januarie vir volgende jaar se Desemberuitgawes! As jy sien jy spandeer ongeveer R5 000 ’n jaar aan Kersgeskenke, spaar elke maand ’n deel daarvan sodat jy dit volgende Desember skuldvry kan doen. R5 000/12 is byvoorbeeld R416.66 per maand. Dis aansienlik makliker om R416.66 elke maand eenkant te sit, as om skielik R5 000 in een maand te spandeer. Om nie eers te praat van die onnodige uitgawe op rente as jy eers in skuld indelf nie.

Dus: Wees wys. Haal Januarie asem sonder iemand wat oor jou skouer kyk in afwagting vir hulle deel van jou salaris. Soos hulle sê: “As dit jou vrede kos, is dit te duur.”

• Bron: Afrikaans.com

Related Articles

Back to top button