Hoërskool Jan Viljoen geseën met Bidbeertjies

Vrywilliger regoor Suid-Afrika brei die beertjies.

Die personeel van Hoërskool Jan Viljoen is op Vrydag, 22 Julie by die Hervormde Kerk Sionspoort met Bidbeertjies geseën.

Die personeel is ook met ‘n heerlike ete bederf.

Die Jannas-onderwyser wat die projek gereël het, Rudi van Wyk het vertel dat die beertjies regoor Suid-Afrika gebrei word deur die sogenaamde ‘Bidbeertjies vir Jesus’-groep.

Die Bidbeertjies wat aan Jannas geskenk is. Foto ingestuur.

“Vrywilligers reg oor Suid-Afrika wat hulself daartoe verbind om vir die ontvanger van die beertjie te bid brei hierdie beertjie in hul eie tyd, en dra die ontvanger in gebed op aan die Here. Elke beertjie het ‘n rugsak waarin ‘n briefie is, sodat die ontvanger presies weet hoe hierdie beertjie aanmekaar geweef is. Op die bors word daar ‘n wapentjie vasgewerk met die woorde ‘Jesus loves me Joh 3:16’,” het Rudi gesê.

Hy het vertel dat hul skool geseënd is omdat soveel mense landswyd vir hulle omgee en vir hul skool en sy mense bid.

“Verskeie groepe het hulle aan die skool verbind deur beertjies te brei, en ons is tans besig om 1 000 beertjies te laat brei en in te samel.”

Hoërskool Jan Viljoen-personeel met hul Bidbeertjies. Foto ingestuur.

As die gemeenskap by hul skool en hierdie projek betrokke wil raak sal hulle dit waardeer, al is dit deur net ‘n stukkie afvalwol of gare te skenk, het Rudi gesê.

Instansies wat reeds betrokke is by die brei van die beertjies is NG Kerk Mindalore, Breitannies van Randfontein, en die Gereformeerde Kerk Brackenhof in Alberton.

Die skool het reeds beertjies ontvang wat deur Bidbreiers aangestuur is uit Malmesbury, NG Kerk Riebeeckstad (Welkom), Vredendal, Kemptonpark, Vereeniging en Randfontein.

Exit mobile version