Rappies-eerstenetbalspan wys hul staal

'Dit was 'n eer en 'n groot voorreg om aan die uitspele te kon deelneem, alhoewel hulle nie verder gegaan het nie' – skoolwoordvoerder.

Die eerstenetbalspan van Laerskool Rapportryer het die vrugte van hul harde werk gepluk.

Skoolwoordvoerder Esme Botha het vertel dat die pandemie twee jaar van die o.11- en o.12-spelers se netbal gesteel het, maar dit het hulle absoluut aangespoor om die beste van hulle o.13-jaar te maak.

“Om mee te begin het hulle al hul vriendskaplike wedstryde gewen en ook uitgeblink in die Randwes-proewe. Ses van die spelers het na die finale D2-proewe deurgedring. Die grootste hoogtepunt was toe Rappies vir Laerskool Randfontein met 16–14 tydens ‘n ligawedstryd gewen het.”

Sodoende het hulle die liga gewen en deurgegaan na die regstreekse Gauteng-uitspeelwedstryde.

“Dit was ‘n eer en ‘n groot voorreg om aan die uitspele te kon deelneem, alhoewel hulle nie verder gegaan het nie.”

Volgens Esme is die sleutel tot hul sukses op die netbalbaan om as ‘n span te funksioneer en hulle het elke keer aangehou speel tot die eindfluitjie blaas. Netbal het hulle ook baie lewenslesse geleer wat hulle in die toekoms kan toepas.

“Dit het hulle geïnspireer dat ek as afrigter in hulle geglo het, en dat hulle ook in hulself geglo het, maar veral die wete dat God saam met ons is en altyd daar is vir ons,” het afrigter Magda Swart gesê.

Rappies se personeel, leerders en Magda is voorwaar trots op die span.

Exit mobile version