Local newsNews

Sionspoort gereed vir Vleisfees 2022

Die tweede Vleisfees ooit in Randfontein sal op 30 Julie plaasvind. Dit is laas in Augustus 2019 gehou omdat die pandemie dit gekniehalter het.

Die Sionspoort Hervormde Gemeente is kliphard besig met die laaste reëlings rondom hul baie gewilde Vleisfees.

“Ons is vir twee jaar gekniehalter deur die Covid-pandemie maar agter die skerms het die Vleisfeeskomitee gewoeker en gewerskaf om ‘n beter en groter fees aan die Randfontein- en omliggende gebied se gemeenskappe te bring. Ons is dankbaar dat ons weer hierdie geleentheid het,” het Appel Ernst, die fees se mediabestuurder gesê.

Die publiek kan uitsien na goeie kunstenaars wat heeldag op die verhoog saam met seremoniemeester Tanya V gaan optree. Die lang lys kunstenaars sluit in Fatman; Germandt Geldenhuys; Valeska; Heidi; Johan Baard; Reinhardt Venter, AJ Vos en Die Ventertjies.

Heidi.
AJ Vos
Reinhard Venter.

Tradisionele musiek deur die Dagbreek Boereorkes, tesame met smulgoed soos skilpadjies en kaiings, skaapstertjies, pannekoek en natuurlik Sionspoort-vetkoek en -feeswors sal besoekers terugneem op ‘n nostalgiese reis.

“Uitstallers van oral oor wat keurige en smaakvolle produkte verkoop, sal ook by die mark wees. Natuurlik sal ons weer vleisprodukte beskikbaar hê. Ons sien uit na ‘n genotvolle dag vol heerlike pret vir ons jongklomp, soos toutrek, pom-pom-vertoning, skaapskeerdemonstrasies en vele meer.

Germandt Geldenhuys (Binnelanders).
Tanya V.
Heidi.

“Toegang is slegs R20 per persoon en ons sien uit om die ou vriende weer gul te ontvang. Daar sal voldoende parkering beskikbaar wees.”

Die fees is by die Tuinhekkie van 08:00 tot laat op Saterdag 30 Julie.

Sien julle daar!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button