Local newsNews

Skoonheid reël karskou vir pa’s en Marno die wonderwerkie

Die oogmerk van die Randfontein Vadersdag Karskou in Greenhills was nie net pret en plesier nie, maar ook liefdadigheid. 'n Stewige bedrag is nie net vir die plaaslike DBV ingevorder nie maar ook vir klein Marno Muller.

Honderde pa’s, oupas, motor- en motorfietsliefhebbers en hul families het op Saterdag, 18 Junie by ‘n Randfontein Vadersdag Karskou by die Greenhills Sportstadion opgedaag. Die oogmerk was nie net pret en plesier nie, maar ook liefdadigheid.

Die klassieke motors en brullende motorfietse was natuurlik die groot trekpleisters maar daar was ook baie vir die kinders te doen soos om stalletjies te besoek, rond te spring op die springkasteel, kameel te ry en selfs roomys te eet, al is dit winter! Maar wat is ‘n byeenkoms tog sonder ‘n vrou se hand? Gelukkig het Mev Randfontein 2021/22, Sonika Bronkhorst die karskou gereël wat ondersteun is deur besighede en persone soos Johan Cronje, die voorsitter van Randfontein Rugbyklub, Mapogo A Mathamaga Sekuriteit, die Ben Morgenrood-groep, Leander Bossman en Shell Adlem.

Ek het die karskou gereël en beplan om ons dorp se mense weer ‘n bietjie bymekaar te bring. Ons het nie meer ‘n skou nie en ek wou ons kinders wys watter pragtige mense Randfontein steeds het. Ons wou terselfdertyd Vadersdag saam met ons manne vier.”

Daar is R3 000 van die toegangsgeld wat ingevorder is aan die plaaslike DBV geskenk, het sy gesê.

Franco van Tonder en Johan Munnik spog met hul Ford Cortina Big Six’s.

Daar is ook spesiaal gebid vir klein Marno Muller van die Oos-Rand wat tans herstel nadat hy by die dood omgedraai het weens ‘n fratsongeluk. Die aanwesiges – van motorfietsryers tot klein kindertjies en ander lede van die publiek – het ballonne die lug ingestuur en saam gebid vir klein Marno. Hy en sy familie het die verrigtinge deur direkte stroming gevolg.

Die hele land is geraak deur die fratsongeluk waarin die vyfjarige Marno byna sy lewe verloor het.

Die toutjies van die seuntjie se baadjie het op Donderdag 26 Mei aan ‘n glyplank by sy kleuterskool in Brakpan vasgehaak. Marno was reeds blou en sonder ‘n pols toe hy gevind is. Hy is bygebring maar was vir ‘n tyd lank in ‘n kritieke toestand in die intensiewesorg-eenheid van ‘n privaathospitaal, waar vasgestel is dat hy breinskade opgedoen het. Die gesin het nie ‘n mediese fonds nie maar slegs ‘n hospitaalplan wat net ‘n klein gedeelte van die koste betaal. Daar is gevolglik op sosiale media om skenkings gevra om vir Marno die beste moontlike sorg te gee. Volgens die jongste berigte toon Marno wonderbaarlike vordering – hy het reeds begin stap en eet self. Die jongste toetse wys egter dat Marno geen breinskade het nie. Hy is reeds tuis hoewel hy nog terapie sal moet ontvang om volkome te herstel.

Johan en Melanie Cronje laat balonne vry vir klein Marno Muller.

Min mense verstaan hoe dit is om so ‘n klein seuntjie so hulpeloos te sien. Hy’s ‘n kleurvolle siel en die ballonne is spesiaal vir hom. Ons kan die wêreld met liefde en gebed verander.”

Volgens Sonika het sy en Sabres West Rand Motorfietsklub R17 000 vir Marno se hospitaalonkostes ingesamel.

Dawie Lotter, MAC’S Motorfietsklub se Hoof van Council saam met Mrs Randfontein 2021/ 2022 Sonika Bronkhorst. Sy motorfiets is ‘n Suzuki Hayabusa Turbo.

Behalwe die goeie gebaar vir Marno was daar volgens Sonika talle ander hoogtepunte.

Daar is te veel om te noem maar daar was glimlagte op oud en jonk se gesigte. Die potjiekoskompetisie het ook vir lekker spanbou gesorg met ons Mapogo tegniese span wat as die wenners aangewys is.”

Sy het afgesluit deur te sê, “Almal was bymekaar vir ‘n goeie doel. Ek wou die dag interessant maak vir al die manne in ons lewens, en vir die motorliefhebbers wat gewoonlik sulke byeenkomste ondersteun. Dit was wel op ‘n kleiner skaal maar dit was wow! Volgende jaar sal dit beter en groter wees!”

Broers Ruan en Shawn Grobler op ‘n kameel.
Tahir Syed from Calvary Bikers Ministry on his Suzuki Hayabusa.
Jannie Botha by sy 1400 Chevrolet Utility. As die motor se voorkoms dit nie vir jou doen sal die klanksisteem beslis. Volgens Jannie het hy R150 000 spandeer aan sy klanksisteem wat twee 15 duim lae bas-luidsprekers, ‘n 10 500 RMS amp en twee 695 trokbatterye insluit.
Amanda Rebb met haar kleinkind Miané.
Johan van Biljon op sy Kawasaki VN900 2013-model.
Hesmari van Tonder speel op die springkasteel.
Ferdi en Theunis le Hanie van die Four Corners Wesrand Motorfietsklub.
Tweelingsusters van ses jaar oud Mieke en Mia Erasmus op ouma se 883 Low Rider Harley-Davidson.
Motorfietsryers bid saam.
Martin Lourens van Venterspos by sy VW 1300 Golf genoem ‘The Mask’. Die gesig van die baie bekende karakter gespeel deur Jim Carrey is oral op die enjinkap.
Theunis en JP le Hanie saam met Des Hattingh van die Four Corners Wesrand Motorfietsklub.
Frans junior en senior Erasmus geniet die karskou saam as pa en seun.
Pastoor Thys Swanepoel van Nemo’s Vir Jesus het vir klein Marno gebid en ‘n boodskap van hoop gebring.
Samuel Grobler van die Wild Breed Wes-Rand Motorfietsklub op sy Kawasaki Kz1000.
Almal bid saam vir Marno.
Johan Botha met sy 2004 Chevrolet Lumina SS V8 5.7. Op die enjin staan talle trofeë waarop hy trots is asook ‘n pop, Chucky.
Organiseerder, Mev Randfontein 2021/22 Sonika Bronkhorst bid saam.

 

Related Articles

Back to top button